01. Waarom vier ons as Christene nie meer die Sabbat nie, maar wel die Sondag? En wat is die betekenis daarvan om Sondag te vier ?
Elke land het sy vryheidsdag, sy Independence Day. In Suid-Afrika is dit 27 April, die dag van die eerste demokratiese verkiesing. Amerika se Independence Day is op die 4de Julie.
Die sabbat was Israel se Freedom Day of Vryheidsdag. Daarom sê Deuteronomium 5:15: “Jy moet op dié dag daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was, wat die Here jou God deur sy krag bevry het. Daarom het het die Here jou beveel om dié dag te onderhou.”Op die Sabbatdag moes hulle die bevryding uit Egipte vier, dat die Here hulle uit slawerny gered het en dat hulle nou die nuwe volk van die Here geword het. Die Fariseërs het dit glad nie verstaan nie. Hulle het daarvan ‘n dag van wette gemaak – van moets en moenies. Daarom het hulle die betekenis van die dag gemis. Daarom het Jesus gesê [Mark 2:23-28]: Die mens is nie vir die sabbat gemaak nie. Dit is nie asof daar ‘n sabbat was en nou het die Here mense gesoek om dié dag te onderhou met ‘n klomp moets en moenies nie. Die dag is vir die mense gemaak. Dié dag moet jou help om al hoe meer die soort mens te wees wat God bedoel het jy kán wees as bevryde mens. Dis die doel van die dag.

Vir ons as Christene is dit nog meer ’n vieringsdag en ‘n vryheidsdag - want Jesus het ons volkome van die sonde verlos. Dis wat ons vier. Die Sabbat as dag wys in die Ou Testament vooruit na die finale bevryding van die sonde deur Jesus. Daarom is die dag in Jesus se kruis en opstanding vervul. Die eerste Christene het dit reg verstaan toe hulle begin het om die eerste dag te vier. Die sabbat was die sewende dag van die week. Hulle het begin om die eerste dag te vier – die dag van die opstanding. Jesus het opgestaan op die eerste dag. Hulle het begin om dit te vier omdat hulle besef het dit is die eintlike bevryding wat ons moet vier. En hulle het dit gedoen lank voor daar iets was soos Sondag as ‘n publieke vakansiedag. Sondag as ‘n publieke vakansiedag kom maar uit die vierde eeu toe Konstantyn die Grote in beheer gekom het. Lank voor dit het die Christene van die eerste eeue vroeg die oggend voor werk, of die aand na werk, bymekaargekom om erediens te hou en hul vryheid as kinders van die Here te vier.
Daarom steek ons by elke erediens ’n Christus-kers aan – ‘n opstandingskers. Daarom lui die klokke, die Paasfeesklokke, die opstandings¬klokke. Elke Sondag se eredienste wil ons herinner dat die opstanding van Jesus die belangrikste is wat oor jou lewe en oor die wêreld gesê kan word. As jy as ‘n Christen na die wêreld kyk en na die wêreldgeskiedenis en die samelewing, dan moet jy sê dat die belangrikste ding in die wêreldgeskiedenis is die opstan¬ding van Jesus. Dit het alles verander. Dit het die wêreld op ‘n nuwe koers geplaas. Die belangrikste ding in jou lewe is die opstanding van Jesus. Dit herdefinieer jou lewe. Dis die bril waardeur ek en jy moet kyk na ons lewe, na die samelewing, met sy misdaad en geweld, na ons eie lewe en ons probleme. Die belangrikste bril waardeur ek na my omstandighede moet kyk is die opstanding.
• Die bekende teoloog Karl Barth is in 1939 genooi om lesings in Skotland te gaan hou. Die nasies is in onrus, net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Toe sê Barth: “Die belangrikste oomblik in die geskiedenis van die wêreld vind plaas wanneer die gemeentes van die Here saamkom om die lewende God te aanbid.” Het jy al in jou lewe so iets gehoor? Die belangrikste oomblik in die geskiedenis van die wêreld vind elke keer plaas wanneer die gemeentes van die Here saamkom om die lewende God te aanbid, want dit het die potensiaal, elke keer, om die hele wêreld te verander. Aangrypend! Die opstanding definieer alles.
• In Texas vier hulle ’n dag wat genoem word “June teenth,” die 19de Junie. Hulle vier die boodskap van die bevryding van die slawe. En dan, skryf iemand, moet jy asseblief nie verwag van ‘n African American en van baie ander mense om by die werk op te daag nie. Hy kan nie anders as om daardie dag te vier nie, want daardie dag het sy hele menswees geherdefinieer. Jy kan mos nou dink: van ‘n slaaf, ‘n ding, tot ‘n mens! Jy kan dit mos nie van ‘n mens wegneem om dit te vier nie. Sy hele bestaan is deur daardie een daad, daardie een Proklamasie geherdefinieer.
Dit is wat Sondag vir Christene is. Daar is niks wat jou en my menswees so herdefinieer soos die opstanding van Jesus Christus nie. Niks. Die opstanding van Jesus Christus, sê Paulus, beteken dat ons nou nuwe skeppings is. Dit beteken ons kan nou die soort mense word wat God ons bedoel het om te wees. Niks kan belangriker as dit wees nie. En as jy dit verstaan, is daar nie ‘n manier dat jy dit nie sal vier nie. Jy sal daaraan dink elke Son¬dag - hoe jy al beter kan verstaan hoe God jou lewe moet herdefinieer.

Daarom is die tweede groot betekenis van die Sondag vir ons dat dit ’n “Herrangskikkingsdag” is – die dag waarop dinge in my lewe elke keer weer her-rangskik moet word In die Sabbat, skryf iemand, het dit nie gegaan oor blote “time off” nie, maar oor “redeeming the time,” om die tyd te verlos. “Reclaiming time as God’s time.”. “Reclaiming time as God’s time.” En daarom, “reclaiming your life as God’s life.” Dis fantas¬ties. ‘n Mens moet rus. Daarom is daar baie motiveringe ook in die Bybel vir die sabbat as rusdag. Dit word ongelukkig te veel beklemtoon as dit oor die sabbat en Sondag gaan. Natuurlik moet daar ritme in jou lewe wees van werk en rus, anders gaan jy fisiek-emosioneel breek. So, God wil ook hierdie ritme in jou lewe hê dat jy fisiek-emosioneel kan heel word. Maar dit gaan veral daaroor dat jy heel gemaak kan word as God se mens. Dis wat die Sondag elke keer wil doen. Dis wat die erediens elke keer wil doen. Dit wil jou en my help om heel te word en heel te bly as God se mense. Dit wil God deurlopend die geleentheid gee om my tyd te heilig. Om my lewensritme te hersien. Om my gebruik van my tyd aan te pas, sodat ek met my hele lewe en in hierdie week wat kom volgens God se ritme en God se prioriteite te kan leef.

Die skaarsste kommoditeit, die skaarsste artikel in meeste moderne Westerlinge se lewens vandag is tyd. Ons is obsessief oor besig wees, oor produktief wees. Ons vertel graag vir mekaar hoe besig ons is. Is dit nie waansinnig nie? Maar dis waar. Die ouens moet dink ek is ‘n verskriklike besige ou, anders dink hulle minder van my. Dis verstommend hoe ons mekaar probeer beïndruk met hoe besig ons is. Daarom sal mense baiekeer vir jou vra, as jy een of ander verdienstelike saak onder hulle aandag bring. “Man, ek sal vir jou geld gee, maar wat ek nie vir jou kan gee nie, is tyd.” En ons sien die effek daarvan op ons huwelike, op ons gesinne. Ons sien die effek in mense se eensaamheid. Ons sien die effek daaraan dat ons al hoe meer individualisties lewe. Is dit ons lot? Is dit ons noodlot? Is ons uitgelewer daaraan ook as Christene? Is dit die een nuwe afgod waarvan ons nie kan wegkom nie, as moderne mense, wat ons lewens teen wil en dank sal beheer.

Die vierde gebod nooi vir ons om as verloste kinders van die Here gereeld Sondag te vier. Spesifiek om in die erediens sy verlossing te kom vier, sodat God gereeld kans kry om my tyd te verlos. Om my tyd te orden. Om my lewe te herrangskik. Dat God gereeld kans het in my lewe. “to redeem my time. to reclaim my time as God’s time.” En om dan in God se tyd, volgens God se ritme, uit God se bevryding in hierdie week te gaan lewe. “In God’s time.” Voor God in die volgende gebooie jou en my huwelik kan heilig en ons arbeidslewe en ons gemeenskapslewe, moet Hy eers ons tyd verlos en heilig.
02. Dominees spreek elke Sondag die seën van die Here uit – wat beteken dit? Hoe werk God se seën – van my vriende sal getuig en sê God het hulle geseën? Seën Hy alle mense?
Dominees spreek elke Sondag die seën van die Here uit – wat beteken dit? Hoe werk God se seën – van my vriende sal getuig en sê God het hulle geseën? Seën Hy alle mense?

Mens hoor dikwels die sinnetjie: ons is geseën / ek is geseën:

+ En dan verwys ouers na die geboorte van hulle nuwe baba.
+ Of jongmense verwys na wonderlike geleenthede, of werksaanbiedinge
+ of ouer mense verwys na hulle gesondheid.

Wat gebeur is: Ons verbind die betekenis van “ons is geseën ” met die goeie dinge wat ons in die lewe beleef en ontvang en waarvoor mens dankbaar is.

Maar, wat van hulle wat in hierdie tyd daagliks hulle werk verloor, wat van hulle wat nie kon kom studeer nie, wat nie die geleenthede kry nie, wat van hulle wat nie vanaand in ‘n droë en warm bed kan gaan slaap nie, wat van hulle wat vanaand bitter eensaam en alleen is?

Is hulle nie geseën nie? Het hulle dalk die seën van God gemis?

Word sommiges geseën en ander nie en wat beteken die seën dan?

Dit is van die moeilike vrae in die lewe wat ons maar sukkel om te verstaan, maar ek het tog gewonder waarvan praat Paulus as hy in die tronk in Rome sit (nie langs ‘n kampvuur in die Wildtuin of saam met vriende om ‘n glasie rooiwyn kuier nie) en sê:

“Aan God die Vader, van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het in Christus ons geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Efesiërs 1

Hierin sien ons die tipiese Joodse gebedsvorm - die “berakah”: Die algemene uitroep van lof aan God met die motivering dat ons deur God geseën is.

En dan vanaf vers 4-14 wys Paulus hoe hierdie seën lyk, wat dit is, as hy basies 7 redes gee:

1. Ons is geseën, want ons is deur God gekies (4) – God is die enigste Persoon wat my kies, ongeag wie en wat ek is. By die werk word ek gekies omdat ek die kwalifikasies het of die ervaring het. Vir my studies word ek gekies omdat ek die punte het, in my verhoudings word ek gekies omdat ek ‘n goeie vriend of vriendin is. Maar God se seën aan my is dat ek deur Hom gekies is, nie op grond van wie of wat ek is nie, maar op grond van hoe en wie en wat God is.
2. Ons is geseën, want ons is as sy kinders aangeneem – Hy is vir ons ‘n hemelse pa en ‘n ma. (5) Ek is nie gekies as nog ‘n nommer nie, maar spesifiek as sy kind. En dit sê iets van hoe God oor ons voel en hoe Hy oor hierdie verhouding met ons voel: Dat Hy vir ons ‘n Vader en ‘n Moeder wil wees, wat wil sorg en wil help en wil lief hê.
3. Ons is geseën want, Hy gee vir ons sy genade om van te leef. (6) Miskien sê die lied van U2 “Grace” dit die mooiste: “Grace is a thought that changed the world…. What once was hurt, what once was friction, what left a mark, no longer stings because Grace makes beauty of ugly things. Grace finds goodness in everything, finds beauty in everything.
4. Ons is geseën want, ons is gered en vergewe.(7) Juis hierin vind ons die grootste genade. Dat ons deur die bloed van Christus vergewe word van al die sonde, van al die verkeerde dinge in ons lewe en nie omdat ons enige iets hiervan verdien nie.
5. Ons is geseën want ons het insig in God se plan vir hierdie wêreld verkry. (9) Ons leef nie maar net nou vir die oomblik asof daar geen betekenis in is nie. Ons kan leef met die wete dat ons in God se hande is en dat hy met ons lewens op pad is. My en jou lewe het doel en betekenis in God se hande.
6. Ons is geseën want ons is God se eiendom. (13) Ons is deel van God se volk, die kerk, en jy dra ‘n paspoort in jou sak wat anders lyk. Jy is ‘n burger van die hemel!
7. Ons is geseën, want ons is erfgename van God (14) En die eerste deposito van hierdie erfenis is reeds in ons lewens gedeponeer as waarborg dat die res sal volg. Ons het reeds die Heilige Gees as die waarborg daarvan ontvang.

Wat ‘n ongelooflike seen:

1. Jy is deur God gekies!
2. Jy is sy kind!
3. Jy leef uit Sy genade!
4. Jy is gered en vergewe!
5. Jy het insig in God se plan!
6. Jy is God se eiendom!
7. Jy is ‘n erfgenaam van God!

Dit is waarmee God ons seën!! En miskien was dit ook juis Paulus se doel om aan die mense in Efese te sê: God seën ons almal – Jood en nie Jood met hierdie ongelooflike seen!

03. Wat is die gawes van die Gees?
Mag ek begin deur jou uit te nooi na die “Netwerkkursus” wat ons gereeld in die gemeente aanbied. Dis ‘n kursus wat gaan oor jou persoonlike roeping en wat jou passies en agtergrond, jou persoonlikheid en dan, inderdaad, jou geestelike gawes, in ag neem in die bepaling van die area in God se Koninkryk waar Hy jou tans wil gebruik om ‘n verskil te maak. Mense wat die kursus in die verlede bygewoon het, getuig dat dit vir hulle ‘n geestelike ontdekkingsreis was – ‘n opwindende avontuur. So onthou, as jy weer ‘n advertensie daarvoor sien!

In hierdie kursus se afdeling oor die gawes van die Gees, het hulle ‘n mooi definisie, waarby ek wil aansluit en effens wil aanpas in antwoord op jou vraag: “Die ‘gawes van die Gees’ is spesiale vermoëns wat as ‘n genade-geskenk deur die Heilige Gees gegee word aan elke gelowige. God se doel daarmee is om die liggaam van Christus (die kerk) op te bou en sodat elkeen daarmee diens sal lewer in die Koninkryk van God.”

Het jy dit gehoor? “Elke” gelowige het geestelike gawes gekry. Jy ook! Die Bybel sê so – gaan lees maar 1 Kor 12:7 en 1 Pet 4:10. En dit is die spesiale vermoëns wat jy het om ‘n unieke bydrae in die Liggaam van Christus (kerk, geloofsgemeenskap) te lewer en ‘n unieke verskil (impak) in die Koninkryk van God (die wêreld) te maak (lees 1 Kor 12:7b – “tot voordeel van almal” en 1 Pet 4:10b – “die ander dien”, ook 1 Kor 12 verse 14 en 26).

Die gawes van die Gees moet onderskei word van die vrug van die Gees (Gal 5:22). Die vrug van die gees is die karaktereienskappe (die “wees” goed) wat in ‘n mens groei en tekens is van geestelike groei en volwassenheid. Dit groei soos wat die Gees meer van jou kry (let op hierdie formulering – dit gaan nie daaroor om meer van die Gees te kry nie, jy het die Gees as jy Jesus Christus aangeneem het, nou moet die (hele) Gees al hoe meer van jou kry). Die geestelike gawes is “doen” goed – dit gee vir ons ‘n aanduiding van die take waarvoor ek in die Koninkryk van God verantwoordelikheid moet neem.

Die gawes van die Gees is ook te onderskei van geestelike dissiplines. Byvoorbeeld: sommige mense het die gawe van gebed. Dit beteken nie dat hulle wat nie hierdie gawe het nie, nie moet bid nie. Sommige het die gawe van diens. Dit beteken eweneens nie dat die ander nie moet dien nie (jy kan nooit die verskoning gebruik dat jy nie wil skottelgoed was, “want ek het nie die gawe van diens nie”). Dit bly ‘n geestelike dissipline om te dien, of om te bid. Hierdie dissiplines laat ons groei in ons verhouding met die Here. Wie die gawe het, dra egter die besondere verantwoordelikheid om dit meer intensief as ‘n spesifieke bediening in die Liggaam van Christus en in sy wêreld te beoefen.

‘n Ander onderskeid is tussen geestelike gawes en natuurlike talente. Die onderskeid is nie waterdig nie, want daar kan oorvleueling wees. Waar natuurlike talente egter dikwels oor selfverwesenliking gaan, gaan die aanwending van geestelike gawes uitsluitlik oor die eer van God en die opbou van sy Liggaam en die mooi maak van sy wêreld. Waar talente ook só aangewend word, kan dit oorvleuel met geestelike gawes.

1 Kor 12 gebruik die pragtige beeld van die kerk as die Liggaam van Christus. Met hierdie beeld verduidelik Paulus dat ons mekaar nodig het en dat geen gawe van die Gees belangriker as die ander is nie. Dit moet mens veral onthou wanneer daar ‘n ophef gemaak word van meer aanskoulike gawes (soos die spreek in tale) teenoor minder aanskoulike gawes (soos diens, onderrig, ensovoorts). Trouens, op 1 Kor 12 volg die baie bekende liefdeshoofstuk 13, waarin Paulus sê dat ‘n gawe wat sonder liefde beoefen word, sy doel geheel en al mis. Die liggaamsbeeld waarsku juis ook dat geen persoon met sy of haar gawe moet dink dat hy of sy ‘n belangriker gawe het nie, of sonder die ander kan klaarkom nie. Niemand mag ook verwag dat almal soos hy of sy moet wees nie. Niemand mag ook jaloers wees op ‘n ander se gawe nie. Elkeen moet sy taak verrig soos God hom of haar “begaaf” het om te wees (lees hieroor bv 1 Kor 12:4-6, Rom 12:5 en 1 Kor 12:27).

So wat is nou eintlik voorbeelde van die gawes van die Gees? Daar is verskillende lyste van gawes in die Bybel. As mens deeglik gaan kyk na gedeeltes soos 1 Kor 12:8-10, 1 Kor 12:28, Rom 12:6-8, Ef 4:11, 1 Pet 4:9-10, Eks 31:3 en 35:30-35, 1 Tim 2:1-2 en Ps 150:3-5 en die verwysings na geestelike gawes daarin saamvoeg, kom jy op die volgende lys van gawes af (die bydrae wat elke gawe tot die Liggaam maak, word in hakies agter aan gedui):

* Apostelskap (nuwe bedieninge, visionering)
* Administrasie (organisasie, effektiwiteit, orde, struktuur)
* Onderskeiding (suiwerheid, duidelikheid, insig)
* Handvaardigheid (hulpmiddels, Kommunikasie)
* Bemoediging (aansporing, geloofsversterking, ywer)
* Kreatiewe kommunikasie (kreatiewe uitdrukking van die evangelie)
* Hulpvaardigheid (ondersteuning, onderbou, bemagtiging)
* Gasvryheid (vertroue, sigbare liefde)
* Geloof (koers, God se beloftes en versorging)
* Vrygewigheid (hulpbronne, versorging, aansporing)
* Evangelisasie (nuwe gelowiges, oorsteek van grense met die evangelie)
* Genesing (heelheid, God se krag, herstel van gebrokenheid)
* Wonderwerke (God se krag en almag)
* Voorbidding (voorsiening, beskerming, insig)
* Leierskap (rigting, visie, verhoudingsbou, motivering)
* Kennis (leersuiwerheid, openbaring, praktiese lering)
* Barmhartigheid (verligting van nood, “Jesus se hande”)
* Interpretasie (‘n Boodskap van opbou)
* Onderrig / Lering (geloofstoepassing in die praktyk)
* Herderskap (sorg, begeleiding, gemeenskap)
* Vreemde tale (boodskap, verdieping, wysheid)
* Wysheid (duidelikheid, beplanning, insig)
* Profesie (korreksie, belydenis, waarskuwing)

[Hierdie lys en verduidelikings vorm deel van die Netwerkkursus – die ontdekking en implementering daarvan word in die kursus behandel.]

Onthou:

* geen een van hierdie gawes is belangriker as die ander nie.
* geen een van hierdie gawes is op sy eie ‘n spesifieke vereiste of kriterium of iemand “die Gees het” al dan nie.
* die vele lyste in die Bybel gee vir ons die indruk dat daar ook ander gawes in die Bybel kan wees wat die Heilige Gees gebruik in sy kerk en wêreld.
* die kontrolering of ‘n spesifieke gawe in jou lewe teenwoordig is, is die bevestiging daarvan deur die Liggaam van Christus, wanneer jy dit beoefen. Ander sal kan sien dat jy deur die beoefening van jou gawe, ‘n Koninkryksimpak maak.
04. Moet mens in tale kan spreek om te bewys dat jy die Heilige Gees het?
1. Dit sal goed wees as jy eers die antwoord op vraag 3 [Wat is die gawes van die Gees?] lees voordat jy hierdie paar opmerkings lees.

2. Een van die belangrikste dinge wat ‘n mens dus oor die gawes van die Gees in die Bybel moet hoor, is dat van geen gawe gesê kan word dat dit ‘n vereiste is dat alle [toegewyde!] Christene hierdie gawe moet hê nie. Daaroor skrywe Paulus glashelder duidelik. Lees die hele 1 Kor 12. Hy herhaal dit oor en oor. Leef ook Rom 12:4-8.

3. Dit geld natuurlik ook die gawe van spreek in tale. Duideliker as in 1 Kor 12:27 – 30 kan dit seker nie gesê word nie. As die Here vir ‘n mens die “gawe van tale” gee, dan ontvang jy dit uit sy hand en gebruik dit tot sy eer. In 1 Kor 14 skryf Paulus uitvoerig daaroor dat die gawe van tale nie in ‘n gemeente verwarring en verdeeldheid moet veroorsaak nie, maar dat Christene dit op die regte manier moet gebruik.

4. Waarom dit tog vir baie Christene ‘n vraag is of alle Christene in ‘n taal moet kan praat, is omdat sommige Charismatiese kerke langs ‘n ander weg tog ‘n sekere soort “in tale praat” as vereiste stel. Dit sou die bewys wees daarvoor dat jy as kind van God regtig die “doop met die Heilige Gees” ontvang het. Dit is jammer dat hierdeur soveel onnodige verwarring veroorsaak word, want die Bybel

* ken nie so iets soos ‘n doop met die Gees as spesifieke ervaring na jou bekering wat beteken dat jy as Christen dan eers die volheid van die Gees ontvang nie

* net so min dat die sg bewys daarvan dan is dat jy in ‘n taal kan bid

5. Hierdie verkeerde siening lei soms tot onsekerheid by lidmate in ander kerke en veroorsaak dat hulle onnodiglik hul eie geloof en toewyding aan die Here begin bevraagteken. Veral omdat die indruk geskep word dat hierdie sg “doop met die Heilige Gees” jou laat oorbeweeg na ‘n ander “vlak” van Christenskap en gemeenskap met die Here – en dat jy sonder hierdie spesiale ervaring nie op daardie “vlak” [sic!] kan kom nie.

6. Daar is geen Bybelse gronde vir hierdie siening van die doop met die Heilige Gees as ‘n noodsaaklike [tweede] ervaring wat in elke [ware, toegewyde] Christen se lewe moet plaasvind nie.

* Die term “doop met die Heilige Gees” verwys in die Bybel altyd na Johannes se voorspelling van wat Jesus sal kom doen, nl dat Hy die gawe van die Heilige Gees aan sy kerk sal kom gee. [Vgl Mark 1:8, Matt 3:11, Luk 3:16, Joh 1:33 ens]

* Hierdie voorspelling is op Pinksterdag vervul toe die Heilige Gees uitgestort is en God sy kerk met die Heilige Gees gedoop het. [ Vgl Jesus se eie verwysing hierna in Hand 1:5 ]
* Die gebeurtenisse in Hand 8:14-17, Hand 10:44-47 en Hand 19:1-7 is deel van die uitvoering van hierdie verlossingsplan van God [dat God deur Jesus die volheid van sy Gees aan die kerk gee] en kan nie gebruik word as Skrifbewys daarvoor dat alle Christene na hulle bekering ‘n tweede ervaring van die “doop met die Gees” moet hê nie.
* Dit is juis belangrik dat ‘n mens die boek Handelinge heilshistories moet lees en nie heilsordelik nie. Dit beteken: Handelinge beskrywe die historiese verloop van God se verlossingsplan in die wêreld na Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Die boek Handelinge moenie gelees word as ‘n beskrywing van presies hoe die “verlossingsproses” in elke gelowige se lewe moet verloop nie – asof alles wat daar met gelowiges gebeur het presies net so ook vir alle tye met alle Christene moet gebeur nie..
* Daarom lees ‘n mens nêrens in die briewe van Paulus van iemand wat so “met die Gees gedoop” is nie en word daar ook geen opdrag aan gelowiges gegee om dit te soek nie.
* Die Nuwe Testament ken nie so iets dat Christene by ‘n latere geleentheid, nadat hulle tot geloof en bekering gekom het, met die Gees gedoop word en dat hulle dan eers toegang het tot die volheid van die Heilige Gees het nie.
* Christene word wel opgeroep om hulle met die Gees te laat “vervul” [bv Ef 5:18 – die tydsvorm van die werkwoord “vervul” in die oorspronklike teks = voortdurend weer te laat vervul], maar dit verwys [soos Gal 5:16] na deurlopende groei in die konkrete beheer wat die Gees al meer in my lewe as gelowige moet kry. En daarin moet ek as Christen inderdaad groei. Dít is nie opsioneel nie!

7. Natuurlik is dit so dat kan Christene soms spesifieke en besondere ervarings met God en met die Heilige Gees kan hê.

* ‘n Mens se verhouding met die Here het natuurlik ook ‘n duidelike ervaringskant. Seker alle Christene sal kan getuig van spesifieke baie spesiale ervarings met God en van God se teenwoordigheid wat hulle in hulle lewe gehad het en dat dit vir hulle baie beteken.

* Dit is verder uit die Bybel duidelik dat ons as Christene moet begeer dat al meer van God se heiligheid deel van ons lewens sal wees.
* Wat in die lig van hoe die Bybel hieroor praat egter verkeerd is, is om so ‘n ervaring dan die doop met die Gees te noem; om dit voor te hou as iets wat elke Christen so moet ervaar; om dit voor te hou as iets wat jou op ‘n hoër geestelike “vlak” plaas; en om te beweer dat die bewys daarvan is dat jy dan die gawe van spreek in tale [tydelik] ontvang.

8. En wat tov al die gawes van die Gees en my Christenskap oor die algemeen altyd in gedagte gehou moet word, is dat die eintlike toets of ek die Here se wil leef, liefde is. Ook al “praat ek die tale van engele”, al preek ek hoe wonderlik ens, sê Paulus in 1 Kor 13:1-7: as dit nie saamgaan met ‘n lewe van liefde, diensbaarheid, onselfsugtigheid, nederigheid ens nie, dan beteken dit niks. Die eintlike toets vir Christenskap is nie praat nie, maar doen.
05. Wat glo ons van die skepping? Het God dit in 7 dae geskep of is die evolusie teorie reg?
Hierdie is ‘n baie groter vraag as wat dit op die oog af mag lyk. Die rede is dat die vraag nie beantwoord kan word sonder om ook twee ander vrae in gedagte te hou nie, naamlik (a) “Wat is die verhouding tussen geloof en wetenskap?” en (b) “Hoe moet ‘n mens die Bybel lees?” So kom ons begin deur net eers kortliks opmerkings oor hierdie twee vrae te maak en dan terug te kom na (c) die vraag oor Genesis en evolusie.

1. Geloof en wetenskap is nie teenoorgesteldes nie. Dis nie die een óf die ander nie. Dis die een én die ander! Dis miskien die eenvoudigste om dit só te stel: Wetenskap gaan oor die hóé van die skepping (of dan die natuur). Dit gee deur die wetenskaplike metodes van hipoteses, teorieë en toetsing vir ons insig in “hoe dinge werk”. [Ons weet bv deur die wetenskap dat weerlig nie die straf van die gode is wat deur mense kwaadgemaak is nie, maar elektriese ladings. Omdat ons weet hoe weerlig werk, kon die wetenskap daarom ook vir ons dinge soos weerligafleiers gee om onsself mee te beskerm en hoef ons nie offers te bring omdat ons dink ons die gode daarmee hoef te paai sodat hulle ons nie met weerlig sal neervel nie.]

Geloof vra ander vrae. Nie “hoe werk die natuur” nie, maar “wat is die sin van alles”. Geloof vra die “hoekom” (of beter gestel, die “waartoe”) vraag en nie die “hoe” of die “wat” vraag nie. “Hoekom is daar iets en nie niks nie?”, “Wat is die sin van die lewe?”, “Wie is God?” – ja, dis die vrae van die geloof! Verstaan ons dit so, is geloof en wetenskap dan ook nie opponente nie, maar goeie vennote!
2. So wat is die Bybel? Wel, in die lig van wat ons in (a) hierbo gesê het, weet ons wat die Bybel NIE is nie. Dit is byvoorbeeld NIE ‘n wetenskaphandboek nie. Ook nie ‘n geskiedenishandboek nie, al word daar ook na geskiedkundige gebeurtenisse verwys. Wat mense dikwels nie besef nie, is dat die Bybel eintlik ‘n biblioteek van 66 boeke is, geskryf deur ongeveer 40 skrywers (wat ook 40 groepe skrywers kon wees), en dat die Bybel soos ons dit vandag ken oor ‘n periode van ongeveer 1500 jaar tot stand gekom het. In die Bybel is daar vertellinge met ‘n historiese basis, maar daar is ook baie ander literatuursoorte (genres) soos gedigte, wysheidsliteratuur, wette, briewe, liedere, profesieë, ensovoorts. Die punt, so sal enige letterkundige ook vir jou kan sê, is dat ‘n mens elke literatuursoort sal lees vir wat dit is. Ek moet byvoorbeeld ‘n gedig soos ‘n gedig lees en nie soos wetenskap nie. [Toe DJ Opperman geskryf het “My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel” het hy immers nie bedoel dat ‘n mens in ‘n nartjieskil pas of in ‘n bakkie kaneelsuiker gaan sit het nie!]

Watter dele van die Bybel in watter genre geskryf is, dáároor kan mens gesels en selfs verskil. Maar om alle dele van die Bybel op presies dieselfde manier te wil lees, is gewoon om die Bybel geweld aan te doen en disrespekvol teenoor die Bybel op te tree.

Die feit dat die Bybel deur mense oor ‘n periode van 1500 jaar geskryf is en nie deur ‘n stem uit die hemel aan een skrywer gedikteer is, wat dit maar net neergeskryf het sonder om self daaroor te dink nie, is nie ‘n probleem nie. Dit beteken nie dat die Bybel “maar net” ‘n menslike boek is en nie die Woord van God is nie. Dit beteken bloot dat ons glo die Bybel is nie “meganies” geïnspireer nie, maar “organies”. Dit wil sê God het die persoonlikheid, lewensomstandighede en konteks van elke Bybelskrywer gebruik en ingeweef in die Bybel. Daarom kan ons so identifiseer met die mense in die Bybel en weet ons hulle beskryf hulle ervarings met God en dat dit vir ons soveel kan leer oor wie God is én wie ons as mense is. Die menslikheid van die Bybelskrywers maak die Bybel nie minder van ‘n wonderwerk en minder “Woord van God” nie, maar eerder meer!
3. Kom ons nou by Genesis, in die lig van (a) en (b) hierbo, is dit belangrik om nie vir Genesis as wetenskap te probeer lees nie. Genesis is nie “in die begin” geskryf nie, met ander woorde is nie die ooggetuieverslag van iemand wat gesien het hoe God skep nie. Genesis 1 het tot stand gekom in die ballingskaptyd, toe die Israeliete in Babilon gesit en toekyk het hoe die Babiloniërs met hulle afgodsbeelde in prosessies in die straat afstap vol bravade oor hoe sterk hulle gode is. Die Babiloniërs het ook die hemelliggame (son, maan en sterre) aanbid. Te midde hiervan kom lewer die Genesisskrywer(s) ‘n aangrypende getuienis wat aansluit by hoe hulle die heelal daardie tyd verstaan het. Onthou, hulle het nie daardie tyd geweet dat die aarde rond is, dat dit om die son wentel en dat daar ook ander planete en sonnestelsels in ‘n uitdyende heelal is nie. In hulle sogenaamde “drieverdieping” wêreldbeeld het hulle dit só verstaan: voordat daar enigiets was, was alles water. Maar toe die Gees van God oor die water sweef het Hy die “waters bo die aarde” geskei van die “waters onder die aarde”. Hy’t ‘n tentdoek, ‘n “gewelf” gespan. Dis asof God sy hande in die water ingesteek het, dit bak gemaak het en ‘n lugborrel geskep het waarbinne hy vir mens, plant en dier kom sê: “Hier! Dis vir julle! Leef! En dit in oorvloed!” [Hulle sou opgekyk het na die blou hemel, asook gedink het aan die sluise van die hemel wat soms oopgaan sodat water daaruit reën en dit het hulle laat glo dat daar water “bo die aarde”, bokant die “gewelf” is. Hulle het ook na die oseane gekyk en dit het hulle laat glo dat die water ook “onder die aarde” invloei.] En toe het God die ligte opgehang aan die tentdak, teen die “gewelf” – die son, die maan, die sterre. Hoor jy die getuienis daarin? Dit wat deur die Babiloniërs aanbid is as gode, is nie gode nie! Dis deur God geskape! Dit dien Hom! Hy is bo dit alles! Hy is die ware God!

As ‘n mens die getuieniskarakter van hierdie skeppingsverhale verstaan (en ja, daar is meer as een – Gen 1 en Gen 2 is twee verskillende skeppingsverhale wat nie met mekaar heeltemal ooreenstem nie), dan is wetenskaplike vrae rondom Gen 1 en 2 doodgewoon onvanpas. ‘n Vraag soos “ja, maar hoe het die plante gefotosinteer as die son dan nog nie geskep was nie?” is onvanpas. So ook, kom ons nou by die oorspronklike vraag uit, of God in sewe dae van 24 uur elk geskep het. Of dit 24 uur is, of dit sewe “tydperke” voorstel, of watter ander tydsinterpretasie mense ook al daaraan wil gee – dit is nie die punt van Gen 1 nie. Dát God die Skepper is (“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde”), dat Hy alles onderhou en in beheer van sy Skepping is, dat Hy sy Skepping “goed” vind en dit liefhet. Dat Hy vir mens, plant en dier lewensruimte wil gee en hulle wil leer om in verhouding met Hom te lewe. Dít is die boodskap van Gen 1 en verder. Oor die hóé van die skepping en hóé die natuur inmekaarsteek – daar kan ons juis by die wetenskap gaan kers opsteek, sodat dit ons verwondering oor God se grootheid kan versterk (want dit is wat die effek van ware wetenskap behoort te wees). As die hóé van God se skepping evolusie of ‘n groot knal insluit – hoe groot is God dat Hy dit ook só kon doen!
06. Verduidelik die verskil tussen kleindoop en grootdoop?
Hier op Stellenbosch is daar nogal groot gevegte rondom die verskil tussen grootdoop en kleindoop. Hoekom doop ons babas en hoe verstaan ons die grootdoop?

Inleiding

Van die grootste gevegte tussen Christene gaan oor die doop, en dit is bitter hartseer. Moet ons klein doop of moet ons groot doop, moet ons besprinkel of moet ons onderdompel. Dit is egter totaal onnodig want, en dit is baie baie belangrik, dit gaan volgens ons verstaan van die doop nie oor iets wat ons doen nie, maar oor God se liefde vir sondaar mense.

Dit gaan dus oor wat God doen.

Deur die geskiedenis was daar nie regtig ‘n geveg tussen die kinderdoop of grootdoop nie, want daar is omtrent nie ‘n kerk in die wêreld wat nie die grootdoop erken nie. Die probleem is eerder dat baie kerke, en dit ook nogal somtyds baie aggressief, die kinderdoop aanval en sê maar dit is verkeerd.

Sommer van die begin af wil ek sê dat die hele doop teologie nie so ‘n eenvoudige saak is nie en op die diepste vlak lê die vraag rondom die doop op die vlak van – watse verhouding is daar tussen die Ou Testament (OT) en die Nuwe Testament (NT). Tussen die OT en die NT verloop daar 430 jaar.

Oorvereenvoudig sê die voorstaanders van die groot doop dat die OT afgehandel is en dat Jesus alles kom nuut maak het en dat die NT eintlik al testament is wat nog geldig is.

Die mense wat die kinderdoop voorstaan sê weer daar is ‘n bepaalde kontinuïteit en ook diskontinuïteit tussen die twee testamente.

1. Die kinderdoop



Die beste om die kinderdoop te verduidelik is aan die hand van die volgende skets.

Mogelijk ondersteunt de browser de weergave van deze afbeelding niet.

Nommer 1:

Genesis 15:7-12; 17-18

* 7 Die Here het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.” 8 Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?” 9 Toe beveel die Here hom: “Bring vir My ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.” 10 Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag. 12 Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; angs, ’n groot donkerte het hom oorweldig.
* 17 Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur. 18 Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.



Genesis 17:6-12; 24-27:

* Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg! 7 “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. 9 Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10 Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11 Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12 elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word.
* 24 Abraham was nege en negentig toe hy besny is, 25 en sy seun Ismael dertien. 26 Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny. 27 Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.



Ons sien hier dat dit God se werk is – dit is God se inisiatief. Dit is Hy wat deur die stukke vleis stap en die verbond (kontrak, ooreenkoms) met Abraham sluit. Die hele storie van deur die vleis loop was die manier hoe mense destyds ooreenkomste met mekaar aangegaan het. God laat vir Abraham slaap omdat Hy net geweet het Abraham sou nie die ooreenkoms van die verbond kon nakom as God hom nie daarmee sou help nie.

Nommer 2:

In die Ou Testament moes bloed vloei as mense sonde gedoen het en daarom moes hulle diere offer. Dit was dus ‘n wat verpligtend was voor die kruisdood van Jesus.

Nommer 3:

God wou hê Sy volk moes ‘n teken dra dat hulle anders is as ander mense. Hulle is Sy volk. Dit is amper soos ‘n boer wat sy skape merk met sy brand teken of ‘n knip in die oor. Almal wat die skaap sien het geweet maar dit is daai spesifieke boer se skaap. So wou God hê moes Sy kinders ook uitgeken kon word. Die teken wat Hy aan die mense gegee het was die besnydenis. Die besnydenis is waar die voorhuid van die manlike penis afgesny is op agt dae ouderdom.

Nommer 4:

Hierdie verbond word met Abraham en sy nageslag gesluit. God is so wonderlik in Sy liefde dat hy selfs vir babatjies van so klein as 8 dae insluit by al die voorregte van die verbond.

Nommer 5:

Wat sê die verbond? Wat behels die ooreenkoms? God sê vir ons: “Ek sal jou God wees en julle moet my volk wees”.

Van die begin af was die besnydenis egter nie net ‘n volksding nie, maar het dit ook ‘n geestelike betekenis (vgl Jos 5:2-9):

* Daar word ook gepraat van die besnydenis van die hart (Lev 26:41; duet 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7 en 9).
* Of van onbesnede lippe (Eks 6:11 en 29).
* Of van onbesnede ore (Jer 6:10).



Nommer 6:

In die Nuwe Testament wil God nog steeds hê Sy kinders moet gemerk word. Maar nou is dit nie meer nodig dat bloed moet vloei, of dat ons meer diere hoef te offer nie, want Jesus (die Lam van God) sterf aan die kruis (word as’t ware geslag en geoffer vir al ons sonde).

Nommer 7:

Omdat bloed nie meer nodig is nie, het God besluit ons moet dit nou met water doen. Soos water mens skoon maak as jy vuil is, so maak (was) Jesus ons skoon van ons sonde (vuilheid). Tekste soos Kol 2:11-12, die hele gesprek in Handelinge 15 en ook Matteus 28:19 gee vir ons ‘n aanduiding dat die doop nou die besnydenis vervang het. Ons sê in die teologie die TEKEN het verander.

Nommer 8:

Die BETEKENIS bly egter dieselfde – nog steeds sê God vir ons Hy sal vir ons ‘n God wees en ons moet vir Hom ‘n volk wees - ons moet leef soos Hy van ons vra.

* Handelinge 2:37-39: 37 By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38 Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39 Wat God belowe het, is (1) vir julle en (2) vir julle kinders en (3) vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.



DIE TEKEN HET VERANDER,

MAAR NIE DIE BETEKENIS NIE.

Ons erken wel ook die grootdoop. Ons praat van die verbond doop (klein doop) en die sending doop (grootdoop). Onder verbond doop verstaan ons dan kinders wat in die verbond omgewing groot word, wat geleer word dat hulle God sin is. Hulle word gedoop omdat die ouers die verbond erken en vir God lief het. By die sending doop verstaan ons dan mense wat buite die verbond leef en groot word. Wanneer hulle dan van Jesus leer en tot bekering kom word hulle gedoop.

2. Besware teen die kinderdoop.



2.1 Jesus is dan groot gedoop?

Ons moet vir Jesus volg en daarom moet ons ook groot gedoop word. Dit is nie so eenvoudig nie, want as ons Jesus moet navolg moet ons ook onthou dat Hy ‘n Jood was, dat Hy besny was volgens Lukas 2:27, dat Hy sonder sonde was, dat Hy gekruisig is en ook nie besittings gehad het nie. Moet ons Hom ook hierin navolg of net in die doop? Om Jesus te volg beteken om heilig te leef en beteken nie net bloot na-apery nie. Maar nog belangriker is die vraag: Met watter doop is Jesus gedoop? Met die doop van Johannes die Doper. Die interessante is dat die mense wat deur Johannes gedoop is, is almal later weer deur Paulus oorgedoop (Handeling 19:1-6). Hoekom word hulle oorgedoop? Want Johannes het nie in die naam van Jesus gedoop nie (vgl Matt 28:19; hand 2:38 en 10:48 ens). Die doop van Jesus moet ons dus anders verstaan. Jesus word gedoop om daar deur aan ons te toon dat Hy sonder sonde is, en ook vir ons sal help om die beloftes en die eise van God se verbond na te kom. Jesus se doop is die bevestiging dat Hy die verwagte Messias is.

Nog ‘n interessante waarneming is dat al Jesus se dissipels besny was, en ons lees nêrens dat Hy hulle oordoop nie – hoekom nie? Skynbaar was Jesus tevrede met hulle besnydenis. Het Jesus egter enige mense gedoop? Hier loop die standpunte uiteen want lees mens Johannes 3:22-26 dan lyk dit so, maar lees mens Johannes 4:1-3 dan lyk dit weer asof Hy niemand gedoop het nie. Skynbaar was die doop nie vir Jesus so ‘n groot saak soos ons dit vandag maak nie. Belangriker vir Jesus was of jy tot bekering gekom het. Hy vra nie vir die moordenaar aan die kruis of hy wel groot of klein gedoop of besny is nie. Hy gee eenvoudig aan hom die belofte: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”. Dieselfde gebeur met elke persoon waarmee Hy praat. Hy maak gesond, vergewe, raas selfs, maar nêrens sê Hy dat die doop ‘n voorwaarde is vir redding nie. Dit maak weereens die geveg tussen kerke so geweldig hartseer. Die ryk jong man vra vir Jesus: “Wat moet ek doen om in die koninkryk te kom?” “Gaan doop jou en volg my!” Nee – “Gaan en verkop alles en volg My”.

2.2 Daar is dan geen teks in die Bybel wat sê mens moet kinders doop nie?


Daar is eenmaal ‘n pamflet versprei deur kerkgenootskappe wat teen die kinderdoop is met die titel van: Wat die Bybel oor die kinderdoop sê. Binne in die pamflet het egter niks gestaan nie. Die bladsye was heeltemal skoon. En hulle is ook reg – daar staan geen direkte teks wat sê julle moet kinders doop nie. Maar en dit is belangrik, daar staan nêrens in die Bybel enige verwysing hoe gemeente kinders gedoop moet word nie. Kerke wat die groot doop voorstaan as die regte manier van doop maak die afleiding dat gemeente kinders op dieselfde manier gedoop moet word as die heidene. Ons moet dus aan mekaar erken dat ons, en die kerke wat net groot doop, al twee afleidings uit die Bybel maak om ons eie standpunte te regverdig. Maar dit hoef ons glad nie bang te maak dat ons dalk dwaal nie, want ons maak ook afleidings rondom die Sondag en die Sabbat, en ook die Drie Eenheid van die Here – almal is tog belangrike sake, maar daar is nie direkte tekste vir die sake nie. Ons kan die HG vertrou dat Hy ons in die waarheid sal lei.

Met dit nou gesê lyk dit tog vir ons asof daar wel aanduidings in die NT is waar die insluiting van die kinders by die doop voortgegaan het. Daar is, lyk dit vir ons, tog sprake van gesinsdope. Alhoewel dit nie seker is dat daar babas in hierdie gesinne was nie, is dit opvallend dat die terminologie wat gebruik word – dat iemand en sy/haar gesin gedoop word, sterk herinner aan die insluiting van die kinders in die OT. Die tekste waar dit staan is onder andere – Handeling 10:47; 11:14; 16:15 vers 33; 18:8 en ook 1 Kor 1:16.

2.3 Moet mens nie eers glo voor jy gedoop kan word nie?

‘n Ander algemene argument teen die kinderdoop is dat die NT vereis dat mense eers moet glo voor hulle gedoop word. Omdat babas nie kan glo nie, so word dan gesê, kan hulle ook nie gedoop word nie. Ons het reeds gesê dat die betekenis van die verbond nie verander het nie, al het die teken verander – Abraham glo, maar klein Isak glo glad nie, maar word tog besny. Ons sê dus as kerk dat ons glo dat geloof verseker ‘n rol speel by die doop handeling. As die ouers glo, word die kind deel van die verbond, al glo hulle nie – maar hulle word voortdurend opgeroep om wel te glo. As die ouers nie glo nie, word die vereiste gestel dat die persone of persoon wat gedoop gaan word eers moet glo, en dan gedoop word. Die opdrag van God in Matteus 28 word volgens ons beskou, as ‘n opdrag wat ons moet toepas op diegene wat God nog nie ken nie. God stuur sy volk na mense wat nie glo nie en hulle moet geleer word, en dan gedoop word.

Groot doop kerke het die volgorde omgedraai: (1) Maak dissipels, (2) doop hulle en (3) leer hulle. Die volgorde is nou: (1) Maak dissipels, (3) leer hulle en (2) doop hulle. Die vroeë kerk het net een voorwaarde gehad vir die doop en dit is geloof in JX.

2.4 Dogtertjies is dan nie besny nie?

Die vierde argument is dat dogtertjies nie besny is nie, en daarom kan ons nie die doop en die besnydenis gelyk stel nie. Ons moet egter onthou dat die vrou in die OT beskou is as deel van die man en dus nie apart hanteer hoef te word nie. Sy word aanvanklik maar net as ‘n besitting beskou, maar in die NT word sy totaal anders geoordeel – neem maar net Paulus se uitspraak in Galasiërs 3:28 dat dit nie saak maak of iemand man of vrou slaaf of vry is nie, almal is in Christus gelyk.

3. Daar word ook baie baklei oor hoe ons moet doop? Moet ons onderdompel of moet ons besprinkel?



Daar is ook baie kritiek en gevegte onder kerke oor die metode van doop. Ook hier moet gewaak word teen ‘n misverstand. Net soos die argument nie gaan oor ‘n keuse tussen groot en klein doop nie, maar net oor die vraag of die kinderdoop reg is, so gaan dit ook nie hier oor ‘n stryd tussen onderdompeling of besprinkeling nie, maar net oor die vraag of die besprinkeling reg is. Daar is na my wete geen kerk wat die onderdompeling as doop metode verwerp nie, maar daar is kerke wat die metode van besprinkeling verwerp. Die meeste kerke wat die kinderdoop erken aanvaar onderdompeling en besprinkeling as doop metodes. Ons ook.

Die metode van doop word nooit in die NT bespreek nie. Dit is daarom jammer dat sekere kerke van die metode van die doop ‘n kwessie maak deur die besprinkeling te verwerp en aan te dring op onderdompeling. Hierdie kerke is egter daarvan oortuig dat hierdie doop metode baie duidelik in die NT geleer word.

3.1 Onderdompeling

Hulle baseer hulle standpunt op die volgende drie gronde:

3.1.1 Mense beweer dat die Griekse woord vir doop onderdompeling beteken. Die argument gaan egter nie op nie, aangesien daar genoeg voorbeelde in die NT is waar dit nie die geval is nie. Dink maar aan 1 Kor 10:2, Markus 10:38 en Heb 9:10 waar ‘n reinigingsgebruik in die OT doop genoem word en ons weet dat die reiniging plaas gevind het deur besprinkeling. Die as van ‘n offerdier is in rein water gegooi, onder rein water word dan verstaan lopende water, en dan is ‘n hisop takkie in die mengsel gedruk en op die mense gespat, of gesprinkel. Die Griekse woord vir onderdompeling “kata-du–ein” kom glad nie in die Bybel voor nie.

3.1.2 Volgens die groepe dui die gebeurtenis in Hand 8:38-39 duidelik daarop dat die doop deur onderdompeling plaas gevind het. Dit is die verhaal van die Etiopiër wat deur Filippus gedoop word, en dan lees ons dat albei in die water ingegaan het, en dat hulle albei uit die water uitgekom het. Ons sê dit dui nie daarop dat die doop deur onderdompeling plaasgevind het nie, want daar staan tog duidelik dat albei in die water in en uit gegaan het, dan moet dit mos beteken dat die Etiopiër en Filippus albei onderdompel is. Dit dui eerder daarop dat al twee in die water in gegaan het, en dat hulle halflyf gestaan het en dat Filippus water oor die Etiopiër se kop gegooi of dan gesprinkel het. Die teks wil slegs beskryf wat gebeur het. Sulke tekste is nie opdragte nie. Petrus bid byvoorbeeld op die dakstoep (Hand 10:9) maar dit sê mos nie ons moet nou ook almal op die dakstoep gaan bid nie.

In party tekste word na die doop verwys as dat mens bad of was – 1 Kor 6:11, Tit 3:5 en Heb 10:22. Hiervolgens maak hulle dan die afleiding dat ons moet onderdompel. Om te bad of te was beteken tog nie dat mens onder die water ingaan nie. Dit beteken eerder dat mens in die water sit en dan water oor jou sprinkel. Die woord wat vir was gebruik word is dieselfde woord wat gebruik word wanneer ons ons gesig was (Matteus 6:17) of om iemand se wonde skoon te was (Hand 16:33) en dit dui tog nie op onderdompeling nie.

In Johannes 3:23 staan daar dat Johannes by Enon gedoop het “waar daar baie water was” en dit lyk maar daar het ons dit, mens het baie water nodig gehad vir onderdompeling. Weereens is dit nie ‘n bewys vir onderdompeling nie. Dit kan alleen ‘n bewys vir onderdompeling wees as mens van die standpunt uitgaan dat besprinkeling met min water gedoen word.

3.1.3 ‘n Baie sterk argument is dat Jesus in die graf ingegaan het en toe opgestaan het, en dat die doop ‘n simbool hiervan moet wees. Mens moet in die water ingaan om simbolies te wys dat jy sterf aan jou sonde en dan moet jy uit die water opkom om te sê jy staan nou op in ‘n nuwe lewe. Ook die standpunt dra nie water nie, want Jesus is tog nie in ‘n vertikale gat begrawe nie en Hy het ook nie vertikaal opgestaan nie. Hy is in ‘n grot – horisontaal begrawe en het opgestaan deur uit die graf te loop. Nêrens in die Bybel word gesê dat die doop simbool moet wees van die begrafnis en opstanding van Jesus nie.

3.2 Besprinkeling:

Daar is egter baie voorbeelde en motiverings wat ons laat sê dat dit tog vir ons lyk asof die vroeëre kerk wel gedoop het deur besprinkeling.

3.2.1. Minstens twee keer in die NT lees ons van plekke waar daar na besprinkeling verwys word wat moeilik op iets anders dui as op die doop – die tekste is Heb 10:22 en 1 Petrus 1:2. Die teks in Hebreërs verwys na die reiniging wat in die OT in die tempel plaasgevind het, en hierdie reiniging het plaasgevind deur besprinkeling. Direk nadat Johannes die Doper by Enon gedoop het ontstaan daar ‘n gesprek oor die reinigingsgebruike, wat ons nou weet deur besprinkeling plaasgevind het. Daar is skynbaar net een sinvolle verklaring vir die vreemde verband: Johannes se doop moes aan die reiniging van die OT herinner het. En dit kan net beteken dat Johannes deur besprinkeling gedoop het.

3.2.2. Nog ‘n motivering vir die doop deur besprinkeling is toe die 3000 bekeerlinge op Pinksterdag gedoop is. Daar was destyds net een groot waterbron waar hierdie deel van Jerusalem sy drinkwater gekry het. Die stadsbestuur sou sekerlik nie toestemming gegee het om 3000 mense daarin te onderdompel nie. Ook die tronkbewaarder en sy huismense se doop kon beswaarlik deur onderdompeling geskied het. Dit vind plaas in die middel van die nag en in die tronk – Hand 16:32-34. Van baddens in ‘n tronk wat groot genoeg was vir onderdompeling was daar nie eens sprake nie.

3.2.3. Argeologiese navorsing oor die doopvonte in die vroeëre geskiedenis van die kerk laat mens vermoed dat die dopelinge tydens die doopbediening binne-in die doopvont in die water gestaan het, en dat die water dan oor hulle kop en skouers gesprinkel of gegiet is. Vroeë doopbakke was oor die algemeen te vlak en te kort dat die dopeling heeltemal onder die water kon verdwyn.

3.2.4. Die Griekse woord vir doop “bap-ti-zo” beteken altyd gedeeltelike onderdompeling. Soos byv. in Lukas 16:24 – vinger gedeeltelik in die water gedruk of in Joh 13:26 waar brood in die sous gedruk word, en in Handelinge waar ons lees dat mense met die HG gedoop is. Dit dui tog nie op onderdompeling nie, maar op die feit dat die tonge vuur op hulle koppe was.

Wat moet ons nou alles sê oor die metode van doop?

* In die NT is die metode van die doop onbelangrik. Daar kan dus geen rede wees waarom ons vandag juis een van die bestaande metodes moet vereis nie – al is dit waar dat besprinkeling ‘n eeue oue reinigings tradisie in die Bybel is.
* Trouens daar kan selfs geen beswaar wees dat sekere Christene onderdompeling verkies omdat hulle daarin ‘n simbool wil sien van die einde van hul ou sondige lewe en die begin van hulle lewe in Christus nie. Hulle moet net nie sê dit kom uit die Bybel en dit vir alle Christene verpligtend wil maak nie.



Samevatting

Baie belangrik:

By die doop gaan dit nie oor die mens nie, maar oor God.

Dit gaan in die doop ook nie oor die metode of oor die groot of die klein nie, maar oor God wat as Vader ‘n verbond met sy kinders sluit en vir hulle belowe: Ek sal vir julle ’n God wees, en vir Sy kinders vra dat ons vir Hom sal lewe.

As jy groot of klein gedoop is, onderdompel is of besprinkel is, en jy leef nie soos God vra nie – is jy besig met sonde in die oë van die Here. Hy roep ons almal, ja gedoop of nie – om ons te bekeer en te leef soos Hy vra.

Die doop maak ons nie heilig nie.

Jesus Christus maak ons heilig!!
07. Hoe ontvang ek die Heilige Gees?
“Het jy al die Heilige Gees ontvang” is ‘n vraag wat dikwels vir Christene onnodig laat skrik en selfs laat twyfel aan hulle verhouding met God. Die rede daarvoor is dat die vraag meesal gevra word deur Christene wat uit ‘n Charismatiese agtergrond kom en wat beweer dat jy na jou bekering ‘n tweede ervaring moet hê wanneer jy “die Gees ontvang” en eers dan “het” jy regtig die Heilige Gees. Dikwels word hierdie tweede ervaring dan die “doop met die Gees” genoem en word beweer dat die bewys dat dit regtig gebeur het, is dat jy [meesal tydelik] in ‘n vreemde taal kan praat of kan bid.

Dit is onnodig dat Christene deur hierdie vraag verwar word.

Die doop met die Heilige Gees
? Die term “doop met die Heilige Gees” verwys in die Bybel altyd na Johannes se voorspelling van wat Jesus sal kom doen, nl dat Hy die gawe van die Heilige Gees aan sy kerk sal kom gee. [Vgl Mark 1:8, Matt 3:11, Luk 3:16, Joh 1:33 ens]

? Hierdie voorspelling is op Pinksterdag vervul toe die Heilige Gees uitgestort is en God sy kerk met die Heilige Gees gedoop het. [ Vgl Jesus se eie verwysing hierna in Hand 1:5 ]

? Die gebeurtenisse in Hand 8:14-17, Hand 10:44-47 en Hand 19:1-7 is deel van die uitvoering van hierdie verlossingsplan van God en kan nie gebruik word as Skrifbewys daarvoor dat alle Christene na hulle bekering ‘n tweede ervaring van die “doop met die Gees” moet hê nie.

? Dit is juis belangrik dat ‘n mens die boek Handelinge heilshistories moet lees en nie heilsordelik nie. Dit beteken: Handelinge beskrywe die historiese verloop van God se verlossingsplan in die wêreld na Jesus se hemelvaart en na die uitstorting van die Heilige Gees. Die boek Handelinge moenie gelees word as ‘n beskrywing van presies hoe die “verlossingsproses” in elke gelowige se lewe moet verloop nie – asof alles wat daar met gelowiges gebeur het presies net so ook vir alle tye met alle Christene moet gebeur nie.

? Daarom lees ‘n mens nêrens in die briewe van Paulus van iemand wat so “met die Gees gedoop” is nie en word daar ook geen opdrag aan gelowiges gegee om dit te soek nie.

? Die Nuwe Testament ken nie so iets dat Christene by ‘n latere geleentheid, nadat hulle tot geloof en bekering gekom het, met die Gees gedoop word en dat hulle dan eers toegang het tot die volheid van die Heilige Gees het nie.

? In 1 Kor.12:3 sê Paulus immers duidelik dat niemand kan sê Christus is die Here [maw ‘n Christen kan wees] sonder die Heilige Gees nie. Dat ek ‘n kind van God is en Jesus as Verlosser aanvaar het is juis omdat die Heilige Gees reeds in my lewe gewerk het en my oortuig het van Jesus se verlossing vir my.

? En in 1 Kor 6:19 sê hy vir die Christene dat hulle juis moet besef dat die Heilige Gees in hulle lewens woon – en dit moet hulle aanspoor om al meer onder beheer van die Gees te lewe. [En hy sê dit nogal vir Christene wat allermins op ‘n spesiale “vlak” van geestelikheid was; daar was immers baie verkeerde dinge in hulle lewe waaroor hy in die brief aan hulle skrywe.]

? Wat Christene wel moet doen, is om hulle met die Gees te laat “vervul” [vgl Ef 5:18] Dit verwys daarna dat die Heilige Gees al meer konkrete beheer in my lewe as gelowige moet kry en dus al meer my “gedrag moet bepaal” [Gal 5:16, 25]. Dit is nie iets wat eensklaps of met een ervaring gebeur nie. Dit is ‘n lewenslange groeiproses, die proses van heiligmaking. Daarom is die betekenis van tydsvorm van die werkwoord “vervul” in die oorspronklike teks van Ef 5:18 om jou “voortdurend weer te laat vervul”. Daarom gaan dit nie daaroor dat ek meer van die Gees moet kry nie – die Gees moet “meer van my kry”; moet meer beheer oor my lewe kry!

Waaroor dit wel gaan
? Die kernvraag wanneer ons nadink oor die werk van die Heilige Gees is dus die vraag na die werklike beheer en konkrete invloed wat die Heilige Gees in my lewe as kind van God het. [Daarom is die regte vraag om as Christen te vra nie “Hoe ontvang ek die Gees nie?”, maar “Hoe leef ek al meer onder beheer van die Gees?”]
? Dat God sy Gees in al sy volheid reeds aan sy kerk en aan elke gelowige gegee het, beteken nie dat ek ook in die volheid van die Gees lewe nie, maw dat die Gees al meer my “gedrag bepaal”, soos Paulus dit in Gal 5:25 noem. Juis daarin moet ek groei.

? Die verskille oor hoe hierdie groeiproses moet verloop mag nie veroorsaak dat ons die saak self mis nie, nl dát daar groei en vordering moet wees; dát daar ‘n opregte soeke na meer van die krag en blydskap en vrug van die Gees in ons lewens moet wees. [Vgl ook Ef 3:14-21]

? Iemand stel dit so: die Heilige Gees moenie ‘n “doctrine” vir my wees nie, maar die “dynamic” in my lewe! Die krag van die Heilige Gees moenie maar net ‘n teorie in my lewe wees nie; dit moet ‘n praktiese werklikheid wees.

? Ons kan as Christene baie by mekaar leer ten opsigte van hoe die Here hierdie pad met elkeen van ons loop. Maar ons mag nooit ons eie pad en ons eie ervaring met die Here “standaardiseer” - asof elke Christen dit presies so moet ervaar nie. Die Here loop deur sy Gees met elkeen van ons ‘n eie pad. Die belangrike vraag is net: is die Here deur sy Gees regtig met my op pad? Is daar groei en vordering? Lewe ek al meer deur die Gees? Maak die Gees al meer ‘n praktiese verskil aan my lewe?
08. Hoe weet jy God bestaan as jy hom nie kan sien nie?
Dis merkwaardig hoe maklik mense glo dit wat in die geskiedenis gebeur het, al was hulle nie self daar nie. Watter kind betwyfel of Jan van Riebeeck regtig op 6 April 1652 met sy drie skepies Tafelbaai ingevaar het? Vanjaar vier ons Calvyn se 500ste verjaarsdag. Niemand betwyfel sy bestaan nie. En so kan ons aangaan – selfs die filosowe voor Christus –Sokrates, die Farao’s van Egipte. Maar wanneer dit kom by God en Jesus, dan twyfel baie mense.
Daar is egter ‘n verskeidenheid redes waarom mense wel aanvaar dat daar ‘n God is. Dink maar aan al die wonderlike dinge om ons, soos die grootheid van die heelal, die wonder van die sterre, die skoonheid van die natuur, of die merkwaardigheid van hoe die menslike liggaam werk. Daar gebeur ook wonderlike dinge om ons, in die geskiedenis, en klein dingetjies in mense se persoonlike lewens – wat hulle oortuig dat daar ‘n God moet wees. Daar is selfs mense wat kan bewys dat God bestaan. Dit blyk egter gewoondlik dat jy met hierdie “bewyse” nie veel indruk maak op mense wat nie (wil) glo nie. Dit versterk gewoonlik net die geloof van die wat reeds glo.

Hy laat tog merke . . .
Tog is daar mense wat oortuig is dat daar iets van God in die natuur sigbaar moet wees. God het dan alles gemaak en is nog voortdurend in die geskiedenis betrokke om sy doel met die wêreld te bereik. Hoe is dit dan moontlik dat daar geen spoor van sy werk iewers sigbaar is nie?
Daarom kan ‘n mens so redeneer: Al sou dit nie moontlik wees om te bewys dat God bestaan nie, behoort dit tog makliker te wees om alles te verklaar as ons die bestaan van God aanvaar, eerder as wat ons dit verwerp. En tog moet ‘n mens die “bewyse” vir God se bestaan met bepaalde voorbehoude oorweeg. Teenoor al die wonderlike dinge staan daar soveel aaklige dinge: natuurrampe, siektes, menseslagtings, kindermishandelings, misdaad. Is dit nie ewe waar dat ‘n mens soms voel jy kan makliker met hierdie dinge saamleef as jy aanvaar dat daar nié ‘n God is nie?

Maar as jy Hom eers ken . . .
Uit die mooi én die sleg kan ons dus nie met enige sekerheid veel meer aflei nie as dat daar groter magte as ons in die wêreld werksaam is.
Die een plek waar ons egter vir God leer ken, is in die Bybel. Die Bybel is ‘n biblioteek van boeke waarin God iets van Homself aan ons kom wys. Hier leer ons dat Hy woon in ontoeganklike lig”(1 Thes 6:16). Ons kan Hom nie sien nie; daarom kom Hy na ons toe binne ons tyd en ruimte.
Wanneer ons Hom leer ken in Sy Woord, gaan ons oë oop om Hom te erken in die natuur en die geskiedenis – waarvan die hoogtepunt sekerlik is die menswording van God in die geboorte van Jesus Christus.

OPSOMMING
• Daar is mense wat uit die mooi dinge wat om ons gebeur aflei dat daar ‘n God is. Maar dan gebeur daar ook aaklige en wrede dinge in die wêreld en natuur wat ons weer hieraan laat twyfel.
• Ons kan God nie uit ons eie pogings ken nie; hy stel Homself bekend in geskiedenisse wat Hy met sy volk op aarde gemaak het – wat uitgeloop het op mdie koms van Christus. Dit het ons op skrif in die vorm van die Bybel.
• God wil ons nie met groot waarhede (boekkennis) oorval nie; hy wil met ons ‘n verhouding aangaan (verbond), waarin ons Hom al hoe beter leer ken uit die waarhede wat ons in die Bybel leer.
• Uit die natuur leer ons Hom egter ook ken – saam met die Woord word hierdie kennis uit die natuur ‘n manier om in verhouding met Hom te kom.

Do you know the legend of the Cherokee Indian youth's rite of Passage?
His father takes him into the forest, blindfolds him and leaves him alone.
He is required to sit on a stump the whole night and not remove the blindfold until the rays of the morning sun shine through it. He cannot cry out for help to anyone. Once he survives the night, he is a MAN.

He cannot tell the other boys of this experience, because each lad must come into manhood on his own. The boy is naturally terrified. He can hear all kinds of noises. Wild beasts must surely be all around him. The wind blew the grass and earth, and shook his stump, but he sat stoically, never removing the blindfold. It would be the only way he could become a man!

Finally, after a horrific night the sun appeared and he removed his blindfold. It was then that he discovered his father sitting on the stump next to him. He had been at watch the entire night, protecting his son from harm. We, too, are never alone. Even when we don't know it, God is watching over us, sitting on the stump beside us. When trouble comes, all we have to do is reach out to Him. *

Moral of the story:* Just because you can't see God, doesn't mean He is not there. "For we walk by faith, not by sight."

Hebreërs 11: 1 kom leer my ‘n belangrike iets van die “hoe weet ons . . .”
Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Ons kan oor God net in geloofstaal praat. As ons alles geweet het, sou ons ‘n greep op God kon kry – en dan sou Hy nie meer God wees nie.
10. Ek lees in die koerante hoe gelowiges (ek praat nie eers van ongelowiges nie!) verskil oor oom Angus Buchan se bediening. Sommige sê die Here gebruik hom om Suid-Afrika “reg te ruk”, maar ander sê “sy teologie is gevaarlik”. Hoe moet ek daaroor dink?
Die belangrikste “toets” vir ‘n bediening is natuurlik veranderde lewens en mense wat hulle roeping uitleef waar die Here hulle geplaas het. Gelowiges wat skepties is oor oom Angus se bediening, kan immers nie hierdie “bottomline” ignoreer nie: derduisende mense (veral mans) het deur hierdie bediening ‘n nuwe of eerste toewyding aan die Here gemaak en begin leef as instrumente in die Here se hand in hulle gesinne, beroepe en in ons pragtige land met al sy uitdagings. Mens wil amper nie meer as net dit sê nie. Maar jy vra ook hoekom sommige gelowiges dit gevaarlike teologie noem. Wel, die kontroversiële sake is:

1. Die beklemtoning van tradisionele rolle in die huwelik en gesin, waaronder die persepsie wat kan ontstaan dat hy sê vroue moet eintlik nie beroepe beoefen nie, maar moet by die huis bly en die kinders grootmaak, terwyl die man die “brood op die tafel” moet sit. Dit word deur sommige gelowiges as chauvinisties beleef. Uitsprake soos dat die man die “priester van die huis” is, en dat die vrou aan die man onderdanig moet wees, steek vir sommiges dwars in die krop. Die beklemtoning van dissipline in die huishouding, waaronder die gebruik van lyfstraf, is ook vir sommige gelowiges omstrede.

2. Die lees van die Bybel as ‘n baie letterlike boek, wat volgens sommige gelowiges nie genoeg aandag gee aan die verskillende literatuursoorte in die Bybel asook die konteks van sekere Skrifgedeeltes nie, en ook volgens hulle ‘n baie selektiewe lees van die Bybel is. Juis die “onderdanigheidsvers” is ‘n voorbeeld hiervan.

3. Die byna “meganiese” werking van gebed, veral dan gebed vir goeie oeste, vir reën, vir genesing. Sommiges sê dit is problematies omdat God ook soms “nee” of “wag” op gebed kan antwoord. Hulle voel dit skep ongeregverdigde skuldkomplekse by mense en die gevoel dat hulle geloof nie goed genoeg is nie, indien hulle gebed nie hierdie “effek” het nie.

Die joernalis Neels Jackson het op sy blog van 8 Mei 2009 ‘n bydrae geskryf, wat ek gedink het ‘n baie gebalanseerde siening is. Lees dit gerus:
Ek verstom my soms aan die polemieke wat om iemand soos Angus Buchan kan losbars. Wat sê 'n mens te midde van al die sterk en uiteenlopende stemme wat luidkeels opklink, oor dié man?

Voordat ek my eie perspektief op die saak gee, net eers iets oor die raamwerk waaruit ek my opmerkings maak.
Daar is 'n klomp mense wat Angus afskiet eenvoudig omdat hulle die Christendom, geloof en godsdiens in die algemeen afgeskryf het. Ek deel nie daardie raamwerk nie. Ek gaan uit van die siening dat godsdiens 'n goeie ding is wat op goeie maniere beoefen moet word.

Daarby het ek oor die jare geleer dat die Christendom in baie verskillende vorms kom. Dis soos 'n groot lappieskombers met 'n klomp verskillende kleure. Elke groep, elke stroom, elke tradisie en elke denominasie verteenwoordig 'n ander lappie in dié groot kombers. Dikwels hang dit saam met verskillende spiritualiteite en verskillende persoonlikhede.

My indruk is nie dat daar een regte manier is om Christen te wees en dat al die ander maniere dan verkeerd is nie. Dis eerder dat elke groep, elke lappie in die kombers, sy eie sterk en swak punte het - en dit help as 'n Christen sy of haar plek in die groter geheel ken en besef wat is die sterk en swakpunte van sy of haar tradisie.
Wat betref Angus en die soort Christendom wat 'n mens by hom kry, beteken dit dat 'n mens hom ook nie kan beoordeel met 'n eenvoudige "ja, hy is reg" of "nee, hy is verkeerd" nie. Dit beteken voorts dat 'n mens by hom ook sterk en swak punte sou kon onderskei.

Ek dink Angus Buchan pas in die evangeliese tradisie wat die boodskap van bekering en verlossing met sterk oortuiging verkondig. Verder dink ek dat hy in sy styl sterk aansluit by die charismatiese tradisie in die land.
Een van sy kenmerke is die eenvoud van sy boodskap. Ek sou die kern van sy verkondiging soos volg kon opsom: Bely jou sonde voor God en vra Hom om vergifnis. Weet dan dat Hy jou vergewe en dat jy sy kind is. Lewe daarvolgens. Leef in 'n verhouding met Hom. Lees jou Bybel daagliks en bestee tyd saam met God. Weet dat dit nie beteken al jou probleme sal tot 'n einde kom nie, maar wel dat Hy by jou sal wees en jou daardeur sal dra. In die lig van jou nuwe verhouding met God, maak jou verhoudinge met die mense om jou reg. Mans moet hul vroue om verskoning gaan vra omdat hulle hul vroue nie goed behandel het nie en hulle respekteer. Hulle moet hul verhoudings met hul kinders bou, maar hulle ook op die regte pad hou deur hulle te dissiplineer. In hul werksituasies moet hulle ook uit hul geloof leef. Vertrou enersyds dat God jou sal lei en help, maar leef andersyds onwrikbaar eerlik en met respek vir ander mense, ook teenoor jou werkers. Vra hulle om verskoning as jy hulle te na gekom het. Weet bowenal dat God wonderwerke kan doen en dat jy Hom in elke moeilike situasie kan vertrou om jou daardeur te bring.

Ek dink die eenvoud van Buchan se bediening is 'n groot rede vir sy sukses en gewildheid. Hy maak dit nie moeilik om 'n Christen te wees nie. In 'n tyd van ingewikkelde teologiese debatte, voel gewone mense hy bring hulle weer by die basiese goed van Christenskap uit.

Daarby dink ek dat Buchan se nederigheid, sy opregtheid (waaraan ek nie twyfel nie) en die deurleefdheid van sy boodskap bydra tot die sukses van sy boodskap. Hy bring sy boodskap in vertellings van wat hy self beleef het. Behalwe dat verhale op sigself goed kommunikeer, is daar 'n egtheid aan sy stories wat sy gehore oortuig. Dit gaan oor regte geloof in die regte wêreld.

Waar lê die swak punte van Buchan se bediening dan?
Ek dink die eenvoud van Buchan se boodskap is nie net 'n sterk punt nie. Dis ook 'n potensiële swak punt. Hoe eenvoudiger 'n mens se boodskap is, hoe makliker kommunikeer dit, maar hoe minder nuanses kan jy daarby inbou. En die lewe en sy vraagstukke is soms ingewikkeld, sodat eenvoudige antwoorde nie altyd help nie.
Die ironie is dat meer genuanseerde teologie gewoonlik moeiliker kommunikeer en dat dit nie maklik die massas bereik nie.

In die breë Christendom dink ek nie 'n mens moet kies tussen eenvoudige teologie soos Buchan s'n en ingewikkelde teologie om komplekse vraagstukke te behandel nie. Ek dink ons het albei nodig en dat hulle mekaar moet aanvul. Daarom is daar 'n belangrike plek binne die Christendom vir Buchan se teologie, maar 'n mens moet ook weet dat die Christendom groter is as net sy boodskap.

Angus word dikwels verkwalik vir sy boodskap aan mans dat hulle die hoof van hul huise moet wees. Self verkies ek ook om ander geloofstaal te gebruik as ek oor die huwelik praat.

Ek dink egter dis onbillik om Buchan se boodskap voor te hou as een van verdrukkende patriargie. Bloot op grond van wat ek sien en hoor, is my indruk dat baie mans wat na Buchan luister, beter huwelike het as gevolg daarvan. Hulle leer om hul vroue weer met respek en liefde te behandel - en ek hoor vroue ook daaroor getuig.
Nog meer onbillik is dit om Buchan as 'n soort geldwolf voor te hou. Ek het in my loopbaan as kerksake-verslaggewer al genoeg evangeliste met goue ringe, blink horlosies en groot motors gesien om te weet wanneer dit vir iemand oor geld gaan. Angus Buchan pas eenvoudig nie in daardie prentjie nie.

As ek voorbehoude oor Buchan se teologie moet uitspreek, sou dit vir my oor twee goed gaan.
Die eerste hou verband met Buchan se sterk klem op skuldbelydenis en bekering. Dis inderdaad 'n boodskap wat elkeen moet hoor om 'n Christen te kan word. Ek dink egter daar kom 'n punt in 'n mens se geloof dat jy die vergifnis en verlossing moet aanvaar en moet aanbeweeg.

Die gevaar van 'n oorbeklemtoning van skuldbelydenis en bekering is dat dit 'n mens se sekerheid ondermyn. Dis asof jy elke keer van voor af gered moet word, asof jy nooit seker kan wees van jou verlossing nie.
Dat daar klaarblyklik 'n klomp mans by Angus se byeenkomste is wat daardie boodskap van bekering en verlossing nodig het, is so. Maar ek wonder soms of daar nie ok 'n klomp mans is wat oor en oor tot bekering kom en nooit verder vorder op die geloofspad nie.

Die tweede kwessie van Angus se bediening waaroor ek wonder is die kwessie van genesing.
Nou moet ek eerstens sê dat ek nie dink dis 'n sentrale deel van sy bediening nie. Die gebed vir siekes kom telkens so as 'n nagedagte nadat hy klaar gepreek het. Dis ook nie asof hy 'n skouspel daarvan maak deur byvoorbeeld siekes na vore te roep en hulle dramaties te "genees' nie. Hy bid eenvoudig vir mense in die gehoor met allerlei kwale en sê soms iets oor die getuienisse wat hy kry oor antwoorde op sulke gebede.

Gebed om genesing bly egter een van die baie moeilike kwessies in die Christelike geloof.
Aan die een kant is dit 'n deel van die Christelike tradisie dat Jesus mense genees het en dat sy volgelinge dit ook gedoen het. Aan die ander kant is daar so 'n lang geskiedenis van wanpraktyke in die naam van genesing dat ek kan verstaan dat mense skepties raak.

Dat mense soms onverklaarbaar gesond word nadat daar gebid is, betwyfel ek nie. Ek het al genoeg getuienisse gehoor wat vir my oortuigend was. Opvallend vir my was dit nooit gevalle wat gepaard gegaan het met trompetgeskal nie. Dit was eerder kere waar mense saggies, half verstom, vertel het wat met hulle gebeur het. Asof hulle self sukkel om dit te glo.

Maar hoe hanteer 'n mens die kwessie teologies? Ek het tot die gevolgtrekking gekom die een konsep wat jy nooit mag laat vaar as jy hieroor dink of praat nie, is die soewereiniteit van God. Hy besluit wie hy wil genees en hoe hy dit wil doen. Hy laat Hom nie in 'n formule indruk soos "As jy glo, sal jy gesond word" nie. Die voor die hand liggende Bybelse voorbeeld van iemand wat nie genees is nie, is die apostel Paulus wat skryf van die "doring in sy vlees" waarmee hy moet saamleef.

Ek was verlede jaar op verskeie byeenkomste waar Buchan vir mense gebid het, maar vanjaar was die eerste keer dat ek hom hoor sê het dat die gebed verhoor sál word. Dit was by die Daniël-konferensie in Pretoria waar hy vir 'n klomp jong mans gebid het wat gesukkel het om saam met hul vrouens 'n baba te hê. Ná die gebed het hy hulle verseker hulle sal kinders hê.

As ek hom reg gehoor het by vanjaar se Mighty Men, het hy ook 'n direkte verband getrek tussen 'n mens se geloof en die beantwoording van die gebed.

Ek sou graag met hom hieroor wou gesels, want uiteindelik is dit God wat besluit of iemand kan kinders hê en of iemand gesond word of nie. En ek dink 'n mens moet ook 'n boodskap hê aan diegene wat nie gesond word nie of wat na al die gebede nie kinders het nie.

Met hierdie kritiek skiet ek Buchan nie af nie. Dis vir my baie duidelik dat hy vir verskriklik baie mense ontsettend veel beteken. Ek dink Buchan het 'n goeie invloed op baie mense, al verskil my eie spiritualiteit van syne en van baie van sy aanhangers s'n. Maar ek dink ook dat ons ook 'n oog moet hê vir moontlike gevare sodat ons mekaar kan help om dit te vermy.
9. Goddelike genesing
Ek het ‘n vriendin wat getuig dat haar pastoor vir haar gebid het toe sy siek was en dat sy nou gesond is? Hoekom bid ons so min in die NG kerk vir genesing? Hoe werk geloofsgenesing?

Inleiding:

Ons sien baie kere hoe daar op TV genesings dienste uitgesaai word van mense soos Benny Hinn en Reinhard Bonke en ek dink wat aan die meeste van ons bekend is is die hele media dekking van TB Josua van Lagos en die genesings daar, veral omdat van ons springbok rugby spelers ook soontoe is en waarvan sommiges genees is en ander nie.

Een punt moet ons net baie baie duidelik maak: Daar bestaan nie iets soos geloofsgenesing nie, daar is ook nie iets soos gebed genesings nie – daar is alleenlik iets soos Goddelike genesings. Hoekom dit so belangrik is is omdat genesing nie afhanklik is van hoe hard ons bid, of wie vir ons bid, of hoe sterk ons geloof is nie. Genesing hang van God af.

Paar verse uit die Bybel:
• Lukas 11:14: Jesus het op ’n keer ’n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Lyk asof dit die duiwel is wat die siekte veroorsaak.
• Deuteronomium 32:39: Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie.
• Eksodus 4:10-11: Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” 11 Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ’n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?
• 1 Sam 25:37-38: Die oggend het Nabal nugter geword, en toe sy vrou hom al hierdie dinge vertel, het hy ’n beroerteaanval gekry en is hy heeltemal verlam. 38 Omtrent tien dae later het die Here hom weer met ’n aanval getref, en het hy gesterf.

Almal van ons was al in verskillende grade siek. Ons weet ook hoe aaklig siekte is. Siekte is ook nie iets wat vir almal dieselfde is nie – vir party mense pla dit glad nie as hulle hoofpyn het nie, ander mense kan glad nie daarmee saamleef nie. Jy kan ook nie vir iemand sê: “Voel oor” nie, want hulle kan nie.

Siekte is ook nie noodwendig net iets wat liggaamlik met jou gebeur nie – dit tas sommer baie keer ook jou gees aan – jy voel ook sommer misluk en gefrustreerd ens. Mens kan nie alle sieninge oor siekte in die Bybel onder een standpunt in forseer nie.

2 Standpunte:

Hoofsaaklik is daar twee uiteenlopende standpunte oor siekte.
a) Die een oortuiging word die “berusting standpunt” genoem wat sê dit is die Here wat mens siek maak, en Hy doen dit met twee redes, of om mense te straf, of met die een of ander goeie doel.
b) Die ander standpunt word die “dramatiese standpunt” genoem wat sê dit is die duiwel wat mens siek maak as deel van sy aanval op die skepping van God.

1. Hoekom word ons siek?

As Christene weet ons dat daar nie iets soos siektes, of droogtes, of plae op die aarde sou gewees het, as dit nie was vir die sondeval nie (Gen 2:17, 3:14-19 en Rom 5:12). Die Bybel is hieroor reguit. Toe die mens teen God se duidelike opdragte kies, het hy homself op ‘n pad geplaas van absolute vernietiging. Siekte is dus deel van die sondeval.

2. Is siekte God se straf op sonde?

In die Bybel is daar ‘n magdom van voorbeelde van mense wat met siekte gestraf is a.g.v. hulle sonde. Soos Mirjam (Num 12:10), Gehasi (2 Kon 5:27), Ussia (2 Kron 26:16-23) en Elimas (Hand 13:11). Soms het God selfs Sy hele volk vir hulle afvalligheid met pes getref – (Jer 24:10) of die ongehoorsames in die gemeente swak en sieklik laat word (1 Kor 11:28-30). Baie belangrik: Die mense was dus elke keer self vir hulle siekte verantwoordelik.

Dit kan selfs wees dat sulke mense weet wat die sonde in hulle lewe is wat hulle siek maak, en vir hulle is daar duidelike Bybelse gegewens oor wat hulle moet doen. Jakobus 5:16 sê: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking”.

Beteken dit nou dat alle siekte straf op sonde is? Nee! Dit was juis die fout wat Job se vriende gemaak het om te dink dat jy altyd van siekte af terug na ‘n logiese oorsaak (die sonde) kan redeneer (Job 42:7-8). Jesus self trek ook ‘n streep deur hierdie redenasie wanneer Hy sê dat die blind gebore man nie so is deur sy eie sonde, of deur die van sy ouers nie (Joh 9:1-3).

3. Is dit die duiwel wat ons siek maak?

As dit dan so is dat siekte na die sondeval deel van ons lewens geword het, dan moet die vark in die verhaal mos die duiwel wees. In sommige kringe word siekte as die duiwel se werk beskou – ons is nou by die sogenaamde “dramatiese standpunt”. Die standpunt klink so: God het die mens goed geskep. Dit is die duiwel wat die skepping aanval en mense se lewens wil verwoes. Voorstanders van die standpunt beroep hulle dan op die talle gevalle van duiwel besetenheid waarvan ons in die evangelies lees om te probeer bewys dat siekte van die duiwel kom. Die belangrike punt hier om te maak is dat siekte en demoniese besetenheid twee verskillende dinge is. Dat daar so iets soos duiwelbesetenheid is staan vas, en dat duiweluitdrywing beoefen moet word is ook ‘n Bybelse opdrag.

Ons noem die standpunt die dramatiese standpunt, want die standpunt sê: Ons moet alle siekte in die naam van die Here uitdryf en beveg. Voorstanders van die standpunt hou ook daarvan om te praat van geestelike oorlogvoering wat dan sou beteken dat jy dit ook moet toepas op die sieke, en dat die sieke dan gesond sal word.

Ons lees wel van gevalle in die Bybel waar dit vir ons lyk asof die satan wel iemand kan siek maak, naamlik in Lukas 13:11 en 16 lees ons van die vrou wat 18 jaar deur die satan swak en siek gemaak is deurdat sy deur die satan gebind was. Vers 16 sê: En hier is ’n vrou, ’n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is.
In Handelinge 10:38 lees ons weer: “Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom”.

Om egter uit die verse af te lei dat dit net die satan is wat mense siek maak, en dat mens net in die geloof standpunt moet in neem teen siekte, is nie so eenvoudig nie. Ons moet waak daarteen om nie aan die duiwel meer mag toe te ken as wat God hom toelaat nie. Maar dat hy wel nog mag het, is waar. By die sondeval was hy die verleier en hy is steeds ‘n moordenaar en die vader van die leuen. Hieruit kom baie pyn, ellende en siekte voort. Dit lyk tog vir ons of satan ook betrokke is by siekte.

4. Is dit God wat mens siek maak?

Die antwoord is nie so eenvoudig nie. Dat die mens as gevolg van die sonde aan siekte onderwerp is, is korrek. En dat die duiwel ook daarin ‘n aandeel het, kan ons ook nie ontken nie. Maar om te beweer dat God niks met siekte te doen het nie, kan ons in die lig van die Bybel se gegewens nie handhaaf nie.

In baie tekste lees ons dat dit die Here is wat mense siek maak – [Gen 12:17, Eks 4:11, 15:25, 1 Sam 25 (wat ons reeds gelees het), 2 Sam 12:15, Deut 28:15-68, 32:39, 2 Kon 15:5, 2 Kron 21:18, 19, 26:20-21 Hand 12:22, 23; 13:8-12]. Job 5:18 stel dit so: Dit is Hy wat wonde toedien. Ons het ook as inleiding Eksodus gelees wat sê: ”Dit is Ek die Here wat siek maak”. Meeste van die tekste wil die almag van God demonstreer – Hy kan letterlik alles.

Maar baie belangrik: ons kan nie sê God is die outeur van sonde nie. Ons kan tog nooit sê dit is God wat wou hê dat Adam en Eva in sonde moes val nie. Nee, inteendeel. Hy het hulle gemaak om vir ewig in Sy teenwoordigheid te wees en hulle het daarteen gekies. Ons moet ook oppas om nie te sê dat God eintlik dan vir satan gebruik om Sy vuil werk vir Hom te doen nie.

Nou hoe werk dit dan? God het aan die mens ‘n vryheid van wil gegee om self te kan kies. Ons is nie maar net robotte of “puppets on strings” nie. Sonde en die gevolge daarvan, soos siekte, kom van die sondeval aan die eenkant, en aan die anderkant is dit die gevolg van die mens se misbruik van hierdie vryheid wat God aan hulle gegee het.

5. Is siekte dan die mens se skuld?

Wanneer ons oor siekte gesels is daar ook ‘n derde rolspeler – die mens self. Jy kan tog nie sonder ‘n trui of jas in die sneeu gaan rondloop en griep opdoen en dan vra wie se skuld dit is nie. God sin? Of dalk die duiwel sin? Nee – dit is jou eie skuld. Mense wat hulle hele lewe lank straf drink en lewer kanker kry kan tog nie sê dit is die satan of God se skuld nie. Mense wat hulle hele lewe lank rook en emfiseem kry kan tog nie sê dit is die rook maatskappy se skuld, of die duiwel of God se skuld nie. Dit is hulle eie skuld. Dit lyk vir my ons sal moet sê dit is ‘n komplekse saak met drie rolspelers.

6. Hoekom laat God siekte toe?

Is dit nie ‘n wrede God wat sulke dinge doen nie? Dit is weereens nie so maklik om te antwoord nie. Jesaja 55:8-9 kan ons dalk hier help. Daar staan dat God hoër is as ons, en dat Sy gedagtes nie ons gedagtes is nie. In plat Afrikaans – God weet beter. En laat ek dit reguit sê - ek weet nie hoekom God dit toelaat nie. Wat ek wel weet, en dit staan omtrent op elke bladsy van die Bybel, is dat God liefde is, en dat Hy alles, letterlik alles, ook siekte, (volgens Rom 8:28) sal laat ten goede meewerk vir elkeen wat in Hom glo.

Daar word wel ‘n hele paar redes in die Bybel genoem hoekom God siekte in ons lewens kan toelaat:
• Om ons geloof te toets – Jak 1:2-3.
• Ons geloof te versterk – Rom 5:3-5.
• Ons onderlinge gemeenskap te versterk – 1 Kor 12:26 en 2 Kor 1:4.
• Ons vaster aan Christus te bind – Fil 3:10 en Kol 1:24.
• Ons vir die ewigheid voor te berei – 2 Kor 4:16-5:5 en Fil 1:19-25.
• Ons te tug - Heb 12:7, 10-11. Let wel nie te straf nie. Jesus het reeds die straf aan die kruis vir ons gedra. Straf is ‘n geregtigheidshandeling. Tug is ‘n liefdeshandeling.

Iemand het die redes in drie hoofgroepe opgesom naamlik:
• Om jou te genees,
• of om jou te verlos,
• of om jou te leer om te volhard.

7. Verwarrende standpunte oor siekte en genesing:

Ek wil graag so vier standpunte noem wat soms aangedui word as redes hoekom mense nie gesond word as daar vir hulle gebid word nie.

7.1) Hy/sy was nog ongered en daarom het hulle nie gesond geword nie.
In 2 Kor 12:7-10 lees ons van Paulus en die doring in sy vlees – hy is nie van die doring in die vlees bevry nie en Paulus was tog ‘n geredde mens. In 1 Tim 5:23 lees ons dat Timoteus ‘n sieklike man was en hy was tog ook ‘n geredde mens. Neem ook die voorbeeld van Job. In Job 1:8 staan daar dat daar geen mens op aarde was wat so vroom soos Job was nie en tog word Job siek. Geredde mense kan dus ook siek word.

7.2) Hy/sy het een of ander sonde in sy lewe wat hulle nog nie bely het nie.
In 1 Kor 12:7 lees ons dat Paulus se doring in die vlees juis daar was om hom te weerhou van sonde en in 1 Tim 5:23 lees ons dat Timoteus nie vermaan word om nie sonde te doen nie, maar om van medikasie gebruik te maak. Ook Epafroditos word siek as gevolg van sy ywer vir die saak van die Here, en nie as gevolg van die een of ander persoonlike sonde nie, sê Fil 2:25-30. Die rede val dus ook weg.

7.3) Sy/haar geloof is nie sterk genoeg nie.
In Hand 27:25 lees ons dat Paulus ‘n man van groot geloof was en in 2 Tim 1:5 lees ons dat Timoteus iemand was met ‘n opregte geloof. Hierdie rede val dan ook weg. Gebrek aan geloof by die sieke kon Jesus nooit verhinder het om te genees nie. Die voorbeeld van die seun in Markus 9 is hiervan ‘n duidelike voorbeeld. Die pa van die seun sê vir Jesus: As U tog iets daaraan kan doen help ons. Daarop het Jesus die kind genees, al het die kind geen geloof gehad nie, en al het sy vader sy eie kleingelowigheid bely. So lees ons tog ook gereeld in die Bybel dat die duiwelbesetenes altyd teen hulle wil en sonder enige geloof van hulle kant genees word. Soms lees ons van geloof as voorwaarde vir genesing (Hand 14:8-10) en dan weer nie (Hand 9:323-34).

7.4) Die houvas van die satan is nog te sterk.
In die geval van Paulus was dit ‘n boodskapper van satan wat hom met die vuiste geslaan het. Dit was geen vorm van duiwelbesetenheid nie, maar ‘n engel (demoon) van satan wat Paulus van buite af aangeval het. Dit was ‘n boodskapper van satan in diens van God om te voorkom dat Paulus hoogmoedig word. Is dit nie fantasties om so daaraan te dink nie – God gebruik ‘n engel van satan om Paulus te help om nie sonde te doen nie. Gereformeerde kerkvaders praat van die duiwel as God se duiwel, want hy kan maar net doen wat God hom toelaat om te doen, soos ‘n hond aan ‘n ketting. So verval die laaste beswaar dan ook.

8. Wat moet ons dan doen as ons siek word?

Nou wat kan en moet ons as gelowiges doen wanneer ons siek is?
• Volgens Matteus 10:8 is gebed vir genesing ‘n opdrag van die Here.
• Die sieke moet die ouderlinge van die gemeente vra om vir hom of haar te kom bid volgens Jakobus 5:14-15
• . Diegene wat bid vir iemand wat siek is, moet volgens Matteus 8:2 en 26:39 bid: “Here as dit U wil is”.
• Volgens Matt 9:12 mag die hulp van dokters ingeroep word, maar nie sonder dat die Here eers geraadpleeg is nie, volgens 2 Kron 16:12.
• En Volgens Jesaja 38:5 en 21 maak gebed nie die gebruik van medikasie oorbodig nie, maar sluit dit dikwels in. Die praktyk waar mense vir siekes sê, om as teken van hulle geloof, dat God hulle gesond gemaak het, hulle pille weg te gooi, moet ten sterkste afgekeer word – tensy die sieke self, en op mediese aanbeveling gesê is die medikasie kan maar gelos word.

9. Handoplegging en salwing?

Ek het al gesien dat daar vir mense hande opgelê word en dat hulle gesalf word. Is dit reg? Moet ons dit nie ook doen nie?
• Daar is geen plek in die Bybel waar dit belet word nie, maar daar is ook geen voorskrif dat dit gedoen moet word nie. Daar is baie voorbeelde in die Bybel waar genesing met handoplegging plaasvind (Lukas 4:40; Hand 28:8) of sonder handoplegging en sonder salwing plaasgevind het (vgl. Matt 12:13; Hand 9:32-35).
• Wanneer daar egter geglo word dat iemand se hande genesende krag het begin die mens die plek van God inneem. Doeke of lappe wat deur mense geseën word en verkoop word en as doeke op hulle geplaas word sodat hulle gesond kan word is onbybels. Salf, en pille, en doeke, en wat ook al, is kanale waardeur God kan werk as Hy sou wou. Maar enigiets wat die aandag van God af wegtrek, en die vertroue in enigiets anders stel as in die Here wat gesond hou (Eks 15:26) of gesond maak, moet as afgodery verwerp word.

Samevatting:

Is dit God se wil dat alle siekes gesond moet word? Dit lyk nie vir ons so nie. Behalwe van Paulus en Timoteus lees ons ook van Trofimus wat te siek was om saam met Paulus te reis (2 Tim 4:20) en Epafroditos wat in ‘n stadium doodsiek was (Fil 2:27). Ons moet dus aanvaar dat God ook kan toelaat dat gelowiges siek word en siek bly.

Ons moet waak teen die twee uiterstes, om aan die eenkant al ons geloof te plaas op die mediese wetenskap en die dokters en die medikasie, of om aan die ander kant alle medikasie af te wys, as sou dit wys daarop dat ek nie op God vertrou nie.

Siekte in ‘n gelowige se lewe is nie noodwendig straf op sonde nie, maar kan deur God gebruik word as ‘n tug handeling. Nader trek handeling – belangrik ondersoek jouself en kyk na sonde in eie lewe.

Die Here genees by een geleentheid in antwoord op gebed – Jak 5:14-15, dan weer genees die Here deur middel van medikasie - Jes 39:5, 21. Hy het self die genesende krag in die medisyne gelê wat deur die dokters gebruik word. Die liggaam beskik ook oor die wondervermoë, wat natuurlik ook deur God aan die liggaam gegee is om homself gesond te maak, soos byvoorbeeld wanneer bene weer aangroei of wonde herstel. So gesien kom alle genesing van God af, of deur gebed, of deur medisyne, of deur dokters – almal is wonderwerke van God.

Die Here erken die werk van dokters (Matt 9:12) en die Bybel sê nooit ‘n onvriendelike ding van die dokters nie. Paulus skryf selfs van Lukas, die dokter wat hy baie lief het.

Maar daar is ook ‘n waarskuwing: Ons moet nie te vinnig ons vertroue op mense stel nie. Somtyds hardloop ons te vinnig met ons siektes na die dokters. Ons moet bid voordat ons na die pille en die botteltjies of die beursies gryp. Want die genesing lê by God.

Verder moet ons ook vir mekaar sê: Die gelowige kan sy gesondheid verloor, maar nie sy verlossing nie. Lasarus is siek tot die dood toe, maar word by sy dood in die hemel opgeneem.

Die apostel Johannes skrywe aan Gaius en sê (2 Johannes vers 2): “Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan”. Hier sien ons dat dit met Gaius se siel goed gegaan het, maar dat dit nie met sy liggaam goed gegaan het nie.

Paulus skryf aan die Galasiërs (4:13-14) en sê: Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het. 14 En al was my toestand vir julle ’n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ’n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was. Paulus is dalk liggaamlik siek maar sy siel is blakend gesond.

Ons kan, as gelowiges, rustig raak dat God alles, ja ook siekte, ten goede sal laat meewerk vir elkeen wat glo. God wil dalk jou siekte genees, of Hy wil jou verlos, of Hy wil jou vra om te volhard in geloof t.s.v. jou siekte.