09 Jun 2014

Canticum Novum genooi na Carnegie Hall, New York

0 Comment

koor

Kort na Canticum Novum se onlangse uitvoerings van die Mozart Requiem in die Endlersaal, Stellenbosch, ontvang hulle dirigent, Louis van der Watt, ’n e-pos van Distinguished Concerts International New York (DCINY). Hulle het videogrepe van die uitvoerings gesien wat koorlid Christian Kwisanga (’n nagraadse student uit Rwanda) op YouTube gelaai het en op grond daarvan die koor genooi om die Mozart Requiem uit te voer in Carnegie Hall, New York, in April 2015. Kore van regoor die wêreld sal saamspan vir hierdie geleentheid onder leiding van die gerekende Amerikaanse dirigent, Dr. Catherine Sailer.

Dr. Jonathan Griffith, Artistieke Direkteur en Hoofdirigent van DCINY, verklaar: “Canticum Novum het hierdie uitnodiging ontvang op grond van die uitsonderlike kwaliteit en hoë vlak van musikaliteit wat die sangers in hierdie opnames demonstreer. Dit is nogal ’n groot eer net om ’n uitnodiging te ontvang om in New York op te tree. Hierdie wonderlike musici verteenwoordig nie net musiek en opleiding van ’n hoë standaard nie, maar hulle word ook ambassadeurs vir die hele gemeenskap. Hierdie is ’n geleentheid waarop almal geweldig trots kan wees en verdien die gemeenskap se erkenning en ondersteuning.”

Canticum Novum, wat oorwegend uit studente en jong werkendes bestaan, is een van die min kore in Suid-Afrika met ’n repertorium wat primêr uit gewyde musiek bestaan. Hoewel hulle voltyds aan Stellenbosch Moederkerk verbonde is, is die koor ook ’n uitvoerende koor en is welbekend vir hulle optredes saam met orkeste soos die Stellenbosch Universiteit Simfonieorkes. Hierdie optredes het al bestaan uit indrukwekkende werke deur Händel, Mozart, Rossini, Bach en Schubert, om maar ’n paar te noem.

Louis van der Watt, lektor in viool en altviool aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Musiek, is sedert 1996 dirigent van hierdie koor, en volg in die spore van groot name in die Suid-Afrikaanse koorwêreld soos Gawie Cillié, Chris Swanepoel, Pieter van der Westhuizen en Anton Els. Deur die 55 jaar van die koor se bestaan het hulle vele suksesse behaal en ’n besondere en beminde karakter verkry. In 2013 dring hulle deur na die finaal van die ATKV Animato koorkompetisie. Te midde van ’n indrukwekkende program, kan die waarde van die koor geensins gekwantifiseer word nie. Vir sowel hulle wat in die koor sing, as diegene wat kom luister, leef die waarde van die koor in die groei wat dit in mense se lewens teweegbring.

Hierdie erkenning is nie net ’n groot eer vir die koor nie, maar ook ’n geleentheid om die Lewende Water tot in New York te laat vloei. Enige gemeentelid wat ’n bydrae wil maak om dit ’n werklikheid te maak, kan vir Louis kontak by lvdw2@sun.ac.za

[top]