Die bediening van bevryding (eksorsisme / die uitdrywing van duiwels en demone)

Die bediening van bevryding (eksorsisme / die uitdrywing van duiwels en demone) 2018-05-02T12:57:08+00:00

Die volgende stuk is die studie stuk van die Algemene Sinode en ‘n kort siening van hoe ons die duiwel en sy betrokkenheid in die wêreld sien en hoe ons oordeel oor duiwel uitdrywing (eksorsisme).

2. DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
2.1 Dit wat hier volg is die studie stuk van die Kommissie van Leer en Aktuele Sake.

2.2 BEGRIPSAFBAKENING
Daar is nie ‘n algemeen-aanvaarde definisie van die `Bediening van die Bevryding’ nie. Verskillende groepe verstaan verskillende dinge onder bevryding. Daar is historiese kerke wat ‘n bevrydingsbediening het met ‘n taamlike sterk sakramentele karakter. In die Pinkster-Charismatiese wêreld word dit gebruik vir ‘n faset van Geestelike Oorlogvoering. In albei betekenisse het dit verband met die pastoraat aan mense wat op ‘n beson-dere manier aan die mag van die Bose blootgestel is.

2.3 AGTERGROND
2.3.1 Om die bevrydingsbediening teologies en pastoraal te beoordeel, is dit nodig om na die breër begrip van Geestelike Oorlogvoering te kyk. Geestelike Oorlogvoering is nie deel van die Gereformeerde of Evangelical tradisies wat oorheersend is in die NG Kerk nie. Dit kom veral voor in die Pinkster-Charismatiese wêreld. Dit bestaan al sedert vroeg in die 20e eeu in veral die Pinksterwêreld, maar nuwer en meer radikale vorme daarvan het in die laat tagtiger jare in samehang met die Third Wave in die Charismatiese wêreld na vore gekom. In die laaste jare is daar egter ook al meer Evangelicals wat hierop inkoop.
2.3.2 In Gereformeerde kringe word dit dikwels beskou as deel van ‘n aantal vreemde verskynsels soos Slain in the Spirit, die Toronto Blessing en Goudstof. Dit is nie net vreemd in die sin dat dit onbekend is en heeltemal buite Gereformeerdes se ervaringswêreld lê nie, maar ook in die sin dat dit anders is, dat dit pas by ‘n spiritualiteit wat ons nie ken nie, dat dit baie sterk op die bonatuurlike afgestem is terwyl ons Gereformeerde en Evangelical tradisies baie `natuurliker’ en `gewoner’ is. Op die meeste sal ons in ‘n figuurlike sin praat van iemand wie se optrede weersinwekkend is as: Dit lyk of hy/sy van die duiwel besete is. Sommige van ons sal miskien wel begrip hê vir besetenheid op ‘n persoonlike vlak. Dit kom in elk geval dikwels voor in Jesus se bediening.
2.3.3 Maar as dit by die “hoër” (of liewer: breër) vlakke van Geestelike Oorlogvoering kom soos die okkultiese en veral die strategiese vlakke, sal die meeste van ons veel meer huiwering hê. In terme van ons Gereformeerde en/of Evangelical tradisies, is hierdie huiwering goed begryplik.
2.3.4 Nogtans moet ons onthou dat ons beoordeling van die Geestesgawes in die laaste dekades baie positiewer geword het. Al beoefen en bevorder ons dit normaalweg nie regtig nie, verwerp ons dit nie meer in beginsel nie. En dit is ‘n vraag of die Bevrydingsbediening en Geestelike Oorlogvoering nie direk hiermee in verband staan nie.

2.4 PRINSIPIËLE BEOORDELING
Hoe moet ons in die lig van die Skrif oor die Bevrydingsbediening en Geestelike Oorlogvoering oordeel? Kom ons onderskei tussen die beginsels en die praktyk, en oorweeg eers die beginsels. Vier sake sal hier aan die orde gestel moet word: die heil as vergifnis én verlossing (bevryding), die motief van stryd en oorwinning, die wonderwerke in die Bybel, en die metode van eksorsisme.

2.4.1 Die heil as vergifnis én verlossing
1. Die Nuwe Testament ken twee groot fasette van die heilswerk van Christus en die Gees: vergifnis en verlossing (of “bevryding).” Jesus het aan die kruis die offer vir ons sonde gebring sodat ons sonde vergewe kan word. Maar Hy het ook aan die kruis, en veral deur sy opstanding, die mag van die sonde en die dood gebreek sodat ons ook verlos of vrygemaak kan word van die sonde en die duiwel (Romeine 6). Beide fasette is noodsaaklik omdat sonde sowel verkeerde dade as ‘n bose mag is.
2. Net soos die vergifnis, het Christus ook die verlossing/bevryding verdien/bewerk, en pas dit deur die Gees in ons lewe toe. Omdat ons deur die doop en die geloof met Christus verenig word, het ons deel aan sy sterwe en sy opstanding. Ons deel dus as gelowiges in sy nuwe lewe, ook in sy oorwinning oor die magte van die duisternis.
3. Daar is dus ‘n algemene sin waarin ons almal deel in die groot verlossing/bevryding van Christus. In die Bevrydingsbediening in tegniese sin, en in Geestelike Oorlogvoering gaan dit egter om iets meer, en wel om die bevryding van mense en selfs gebiede wat in ‘n besondere sin onder die mag van die Bose is.

2.4.2 Stryd en oorwinning as interpretasiemodel
2.4.2.1 Die beginselstandpunt van Geestelike Oorlogvoering
1. Geestelike Oorlogvoering neem die mag van die Bose baie ernstig op. Die duiwel en die bose magte het hierdie wêreld van God gesteel, en hulle staan hul mag nie sonder slag of stoot af nie. Dit kos stryd. Of dit nou gaan oor hulle mag in die lewe van enkelinge, of oor groepe deur die okkulte, of oor hele streke of gebiede, dit sal ‘n oorlog kos om hulle uit hul magsgebiede en invloedsfere te dryf.
2. Volgens hierdie beskouing het Jesus inderdaad reeds die beslissende oorwinning aan die kruis behaal, maar die stryd duur nog voort. Hy het die oorwinning deur die krag van die Gees behaal, en dieselfde Gees bekragtig ons nou om die stryd voort te sit. Omdat dieselfde Gees ons bekragtig, kan ons dieselfde dinge doen as Christus, en volgens sy belofte selfs groter dinge.
3. Dit mag vreemd lyk dat Jesus die duiwel oorwin het maar dat ons nog die stryd moet voortsit. Maar dat ons, ondanks die beslissende oorwinning van Jesus, nog steeds in ‘n stryd teen die bose magte gewikkel is, is volgens hulle duidelik uit die Nuwe Testament. Hulle verstaan dit so dat die duiwel wel oorwin is deur Jesus, maar nog nie vernietig (“in die poel van vuur gegooi”) is nie, en daarom duur die stryd nog voort. Die duiwel val ons nog altyd aan en beheer nog altyd op een of ander manier sekere mense, mensegroepe en selfs groot gebiede. Daar is volgens hulle in die lig van die Nuwe Testament ‘n groot verskeidenheid bose magte/geeste met individuele, identifiseerbare persoonlikhhede.

2.4.2.2 Beoordeling van hierdie standpunt
1. Vir ons is die vraag of ons die evangelie só kan verstaan. Hou hierdie siening verband met basiese insigte uit die Bybel? Die vraag is nie of hierdie sieninge die hele evangelie kan verwoord nie. Die meeste voorstanders van Geestelike Oorlogvoering is duidelik daaroor dat Geestelike Oorlogvoering maar net een faset van die evangelie is, en dan nie eens die belangrikste faset nie. Ons vraag is dus net of hierdie siening van stryd teen die bose magte in terme van die Bybel verantwoord kan word.
2. En die antwoord moet sonder meer wees: Ja wat die beginsel betref, al sal daar vrae wees oor die praktyk. Die model van stryd en oorwinning wat ten grondslag van die siening van Geestelike Oorlogvoering lê, is ‘n goeie model om wesenlike aspekte van die werk van Jesus en die Gees te probeer verstaan.
3. ‘n Mens kan begin deur eenvoudig te dink aan sekere sentrale woorde in die evangelie wat almal sterk herinner aan ‘n stryd: koninkryk (heerskappy), wapenrusting (in volle detail!), stryd, weerstand bied, staande bly, oorwinning behaal, uitdryf. In verband met die bose magte is daar uitdrukkings soos heerser, goed bewapen wees, besittings bewaak, aanslae, vurige pyle, brullende leeu.
4. Die Bybelse konteks van hierdie strydvoorstelling is dat die bose magte God se skepping in hul mag gekry het (gesteel het) sodat die duiwel nou die heerser van hierdie wêreld is en dit probeer vernietig (Joh 12:31; 14:30; 16:11; 2 Kor 4:4; 1 Joh 5:19). Dit is ‘n oortuiging wat ontwikkel het as deel van die Laat-Joodse apokaliptiek om die ramp van die ballingskap te probeer hanteer.
5. As Jesus dan aankondig dat die koninkryk van God op hande is en dat Hy deur die vinger/Gees van God die duiwels uitdryf (Mark 1:15; Matt 12:28; Luk 11:20), gaan dit inderdaad om stryd en oorwinning. Trouens die eerste ervaring wat Jesus na sy doop het, is sy skerp konfrontasie met die duiwel (Matt 4:1ev). As ‘n mens nou in gedagte hou dat die koms van die koninkryk deur baie Nuwe Testamentici as die sentrale motief in Jesus se aardse optrede beskou word, is dit nie vreemd nie dat Jesus se wonderwerke, veral sy duiweluitdrywings, die tema is wat die meeste in die Sinoptiese Evangelies ter sprake kom, en dat daar inderdaad gesê kan word dat ons nie die optrede van Jesus kan verstaan sonder die agtergrond van die duiwel en die bose magte wat mense en selfs die natuur (Mark 4:39) beheer het nie.
6. Hierdie model van stryd en oorwinning word in die Briewe ook op Jesus se kruis en opstanding toegepas. Christus het deur sy kruis en opstanding die bose magte ontwapen en van hulle ‘n openbare spot gemaak deur hulle as gevangenes in sy triomftog mee te voer (Kol 2:15). En wanneer ‘n apostel ‘n kort karakterisering van Jesus se lewe en optrede gee, lees ons onder andere: “Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom” en later: “Die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak” (Hand 10:38 en 1 Joh 3:8).
7. Oor hierdie basiese motief van stryd en oorwinning in die Nuwe Testament sal daar onder ons min verskil wees. Die betekenis daarvan vir vandag word egter wel verskillend verstaan. Daar is sommige onder ons wat sterk benadruk dat Jesus klaar die oorwinning oor die Bose behaal het, en dat ons dus niks meer van hom te vrees het nie, en selfs niks meer met hom te doen het nie. Dit word selfs as oneerbiedig teenoor Jesus en sy wonderlike oorwinning beskou om nog ernstig met die mag van die duiwel rekening te hou.
8. Aan Jesus se wonderlike oorwinning mag niemand afbreuk doen nie. Nogtans word sy oorwinning nie in die Nuwe Testament só verstaan nie. Reg van die begin af betrek Jesus die dissipels direk by sy wonderwerke wat duiweluitdrywing insluit. Sy opdrag aan die twaalf is enersyds om die goeie nuus te verkondig dat die koninkryk op hande is, en saam daarmee wonder-werke te doen wat duiweluitdrywing insluit (Matt 10:7-8). As Lukas later van ‘n tweede uitsending vertel, dié van die sewentig, eindig dit met die triomf: “Here, selfs die duiwels onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam” (10:17). Ook nadat Jesus die beslissende oorwinning behaal het, gaan die betrokkenheid van die apostels by hierdie stryd volgens Handelinge nog voort. Ons lees van die apostels: “Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen” en Paulus en Barnabas wat op die vergadering in Jerusalem vertel “van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het” (Hand 14:3; 15:12). Dat eksorsisme hierby ingesluit was, is duidelik uit bepaalde insidente (Hand 8:6-7; 13:6ev; 16:16ev; 19:11,12) – al moet dit ‘n mens ook opval dat eksorsisme, en trouens ook die wonderwerke in die algemeen, baie minder prominensie in Handelinge geniet as in die Sinoptiese Evangelies (4.4).
9. Dit is verder duidelik dat dit die veronderstelling in die Briewe is dat die gelowiges voortdurend in dié stryd betrokke sal wees (Ef 6:10ev; 1 Pet 5:8ev).
10. Ons moet dus aanvaar dat ons in ‘n stryd betrokke bly ondanks die beslissende oorwinning wat Jesus alreeds behaal het. In die Kategismus bely ons dit soos volg: “Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van die Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal” (Sondag 52).
11. Dit skyn dus moontlik om ‘n sterk saak daarvoor uit te maak dat een van die basiese uitgangspunte van Geestelike Oorlogvoering, naamlik ‘n voortgaande stryd en oorwinning teen die bose magte, goeie Bybelse en Belydenisgronde het.

2.4.3 Wonders
Die derde prinsipiële saak waarna ons moet kyk, is die wonderkarakter van die evangelie waarop Geestelike Oorlogvoering buitengewone nadruk lê. Hierdie beweging funksioneer in ‘n konteks van wonderwerke, van ‘bonatuurlike’ dinge wat nie deel is van ons gewone ervarings nie. Die deursnee NG lidmaat en predikant het waarskynlik nog nooit die soort wonderwerke gesien waarop hierdie mense aanspraak maak nie.

2.4.3.1 Ons tradisie
In ons tradisie het die wonderwerke van Jesus nie sterk na vore gekom nie. Dit is byvoorbeeld interessant dat ons glad nie na sy wonderwerke verwys in ons Belydenisskrifte of Formuliere nie, en byna glad nie in ons liedbundel nie. Wanneer ons wel aandag daaraan gegee het, het ons dit gewoonlik op een van die volgende maniere hanteer. Vir baie lank het baie van ons die sogenaamde Streepteologie taamlik algemeen aanvaar. Ander ontmitologiseer (Bultmann), of vergeestelik die wonderwerke (die Here open ons geestelike oë of maak ons geestelike lam bene sterk). Ander vermy eenvoudig die wonders. Daar is wel hier en daar iemand onder ons vir wie dit ‘n uitdagende probleem is. Maar in ons prediking, kerklike lewe en persoonlike spiritualiteit speel dit oor die algemeen nie veel van ‘n rol nie.

2.4.3.2 Die Bybel
1. Wat ons egter moet besef, is dat daar opvallend baie wonderwerke in Jesus se aardse bediening voorkom, met besondere klem op die uitdrywing van bose geeste, en verder dat daar ‘n sin is waarin die Bybel eenvoudig ‘n wonderboek is. Selfs in die voor-apokaliptiese dele van die Ou Testament is daar baie wonderverhale – onder andere tydens die uittog en by die vroeë pro¬fete – maar sedert die ontwikkeling van die laat-Joodse apokaliptiek is die bonatuurlike aan die orde van die dag. Ons lees van wonderwerke tydens Jesus se geboorte, tydens die drie groot heerlikheidsmomente in sy openbare optrede (sy doop, sy verheerliking op die berg, en sy opstanding), en ook van talle wonderwerke wat Hy self gedoen het. Verder is daar die wonders in die optrede van die apostels, die gawes waardeur die gemeentelede mekaar bedien, die beloftes oor Christus se wederkoms, en ons opstanding en verheerliking. Die laaste boek in die Bybel is byna in sy geheel een groot bonatuurlike verhaal. En om alles te kroon begin en eindig die Bybel met die twee grootste wonders denkbaar: die skepping en die herskepping van alle dinge.
2. ‘n Mens moet oppas vir die gedagte dat ondanks hierdie talle wonders “die hart van die evangelie” tog op ‘n ander vlak lê: die vergifnis van sonde, die regverdiging, die plaasvervangende kruisdood van Christus, en die vrug van die Gees in ons lewe.
3. Eerstens moet ons nie hierdie fasette van die evangelie teen mekaar afspeel nie. Nóg Jesus, nóg een van die apostels het ooit sondevergifnis téénoor wondergenesing gestel. Die wondergenesings en die ander wonderwerke in Jesus se aardse bediening het ‘n eie waarde as deel van die evangelie, net soos sondevergifnis en die nuwe lewe.
4. Tweedens moet ‘n mens nie maak asof sondevergifnis en die nuwe lewe nie wonders is nie. Wat is aangrypender wonderwerke as dat God goddelose mense regverdig verklaar, dat Hy mense nie laat boet vir wat hul gedoen het nie maar eerder sy enigste Seun gee om nog verder deur hulle gemartel te word sodat Hy hulle kan vergewe? Wat is ‘n groter wonder as die vrug van die Gees in ons lewe: dat ons ander hoër ag as onsself, nie na ons eie belange omsien nie maar na die van ander? (Dit is ‘n beter weergawe van Fil 2:4. Vgl 1 Kor 10:33.) As wonderwerke “bonatuurlik” is, wat is “bonatuurliker” as dit alles?
5. Maar ons kan hierdie wonders nie teen die ander (meer “fisiese”) wonderwerke afspeel nie. Dit is twee kante van dieselfde saak.
6. Geestelike Oorlogvoering en die Bevrydingsbediening leun swaar op hierdie “bonatuurlike” wonderkarakter van die Bybel. As ons ‘n reaksie hierteen het, mag dit nie wees omdat ons nie die wonderkarakter van die Bybel kan hanteer nie. Ons moet eerder Geestelike Oorlogvoering sien as die uitdaging om met die Bybel as ‘n wonderboek in die reine te kom.
7. Met hierdie eerste drie belangrikste teologiese uitgangspunte van Geestelike Oorlogvoering en die Bevrydingsbediening kan ons dus in beginsel min fout vind.

2.4.4 Die metode van eksorsisme
1. Ons moet egter in meer besonderhede kyk na die metode van eksorsisme in die Bybel, omdat dit van groot belang is in ons beoordeling van die Bevrydingsbediening.
2. In die Nuwe Testament word die uitdryf van duiwels op ‘n eenvoudige, sobere wyse beskryf. Daar is die minimum drama en rituele. In die geval van Jesus is die oorweldigende indruk dat die duiwels byna geen weerstand bied nie, dat hulle skree en vlug as hulle Hom net sien. Af en toe is daar vir ‘n oomblik ‘n beperkte reaksie, maar dit is duidelik dat Hy heeltemal hul meerdere is. Die enkele keer wat daar wel ‘n gesprek is, is dit ewe kort en sober (Mark 5:1-20). Die paar verwysings na die dissipels se eksorsisme is ewe kort en saaklik (Mark 3:15; 6:7-12). Na die verheerliking op die berg is die dissipels nie in staat om iemand te bevry nie. Jesus kom daarop af, verwyt hulle hul ongeloof en onbegrip, en dryf self die “stom en dowe gees” uit (Mark 9:14-29). Wat hier spesifiek oor eksorsisme gesê is, is ook waar van Jesus se wonderwerke in die algemeen. Dit word deurgaans kort, eenvoudig, sober en saaklik beskryf.
3. In Handelinge gaan dit nie anders nie (Hand 2:43; 4:30; 5:12-16; 6:8; 8:4-8; 14:3; 15:12; 16:16ev; 19:11-12), behalwe dat daar selfs minder in besonderhede op die eksorsisme ingegaan word. Dit word eerder meer terloops vermeld as ‘n bevestiging van die krag van die evangelie. Tog is dit nie verantwoord om te beweer dat daar noodwendig minder eksorsisme voorkom nie. Die meeste verwysings is algemene uitsprake, en ‘n mens kan aanvaar dat die staande uitdrukking wat oor en oor gebruik word, “tekens en wonders”, eksorsisme ingesluit het.
4. In die Briewe het ons ongeveer dieselfde prentjie as in Handelinge: Min besonderhede maar wel algemene verwysings (onder andere 1 Kor 12:9,10,28; 2 Kor 12:12; Heb 2:4; 12:4). Verder is daar verwysings wat so onopvallend is dat ons hulle normaalweg nie eens raaksien nie. Gal 3:5 (“Hy wat julle met die Gees toerus en kragtig onder julle werk”) is onder andere ‘n verwysing na eksorsisme. In al hierdie gevalle word egter omtrent geen besonderhede gegee nie.
5. Daar is ook twee ander lyne in die Briewe. Die een is dat Christus deur sy kruis en opstanding die bose magte oorwin het (4.2). Die ander een is dat ons in ‘n voortgaande stryd teen hulle betrokke is. Hierdie stryd word in sterk terme uitgedruk: ‘n stryd waarvoor ons ‘n volle wapenrusting nodig het (Efesiërs 6), ‘n vyand wat voorgestel word as ‘n brullende leeu wat wil verslind (1 Pet 5:6), ‘n stryd om lewe en dood (Heb 12:4).
6. Hierdie stryd het ‘n paar kenmerke. Dit is ‘n defensiewe stryd. Die doel is dat ons weerstand moet bied en enduit op ons pos moet bly (Ef 6), en dat ons standvastig moet wees en die duiwel moet teëstaan (1 Pet 5). Ons wapens is fasette van ons geloofslewe wat ons goed ken: waarheid, vryspraak, bereidheid om die evangelie te verkondig, geloof, verlossing, die woord van God (Ef 6), nugterheid, geloof (1Pet 5). Daar is min ander gegewens oor eksorsisme in die Briewe, maar daar is geen rede om te vermoed dat dit anders gedoen is as die sober, saaklike manier waarop die Evangelies en Handelinge dit beskryf nie.
7. ‘n Mens sou dus eksorsisme én die stryd teen die Bose kon interpreteer as ‘n geloofstryd, wat ons terug bring by die Reformatoriese sola fide [my invoeging: geloof alleen], wat eintlik solus Christus [my invoeging: Christus alleen] en sola Scriptura [my invoeging: die Bybel alleen] is. Dit kan nie anders werk as die res van ons heiligmaking nie, wat beteken ons groot taak is om op Christus en sy oorwinning te vertrou. Hy heilig ons deur ons in staat te stel om die sonde te oorwin en ons lewe volkome aan God te wy. Nog weer anders: Ons kry deur die doop en die geloof deel aan sy opstandingslewe sodat ons soos Hy vry van die mag van die duiwel kan leef.
8. Dit beteken allermins dat daar geen werklike stryd is nie. Die woorde oor stryd staan nog altyd in die Bybel in verband met die stryd teen die Bose én in verband met heiligmaking in die algemeen. En ons Belydenis weet goed van die felheid van hierdie stryd. Ons het reeds gekyk na HK Sondag 52 (2.4.2.2 se einde). Dit is ‘n harde uitputtende stryd, maar ons wapens is bekend: die krag van die Gees, die woord van God, die geloof, eintlik net Christus wat alreeds die beslissende oorwinning deur sy kruis en opstanding behaal het.
9. Dit is in hierdie verband wat ‘n mens die grootste huiwering het oor bepaalde vorms van Geestelike Oorlogvoering en die Bediening van bevryding. Onder punt 2.5 sal ons sien dat dit om meer gaan as die bekende geestelike wapens wat ons in die Nuwe Testament kry, dat daar ‘n siening ontwikkel het van ‘n ingewikkelde infrastruktuur in die geesteswêreld, van name en rangordes, gebiedsindelings, en baie meer, en dus ook ‘n ingewikkelde sisteem wat Christene moet ontwikkel om hierdie infrastruktuur omver te werp. Van die sober, saaklike, eenvoudige taal van die Nuwe Testament bly hier min oor. Bo en behalwe die bekende geestelike wapens wat uiteindelik neerkom op ons vertroue op Christus, is ‘n groot klomp inligting nodig om die stryd te verstaan en te voer. Dit is hierdie plus bo die eenvoud van die Nuwe Testament wat ‘n mens laat huiwer.

2.5 DIE PRAKTYK
Ons het reeds onder punt 2.4.4 beweer dat ons grootste huiwering oor Geestelike Oorlogvoering en die Bediening van bevryding op die gebied van die praktyk lê. Daarom moet ons nou nader hierop ingaan.

2.5.1 Gebedsreise
1. Eerstens dink ‘n mens aan gebedsreise. Christene reis na ‘n bepaalde gebied om daar ter plaatse te bid. Dit kan uiteraard groot kostes beteken en ook heelwat tyd in beslag neem.
2. Daar is verskillende oortuigings agter hierdie gebruik. ‘n Mens kan twee uiterste standpunte onderskei. Die eerste is dat dit besondere waarde het dat mense die bepaalde gebied besoek. Dit gee hulle eerstehandse inligting en ‘n persoonlike belewing van die situasie. Dit maak hulle gebed baie konkreter en sinvoller. Verder beteken dit baie vir die sendelinge in die gebied en versterk die noodsaaklike band tussen die tuisfront en die sendingsituasie. En ten slotte lei dit dikwels daartoe dat persone op nuwe maniere by die sending betrokke raak, en soms selfs self daar gaan sendingwerk doen. In hierdie geval is “gebedsreise” ‘n naam vir ‘n baie omvattender gebruik wat sekerlik baie waarde het.
3. Daar is egter ‘n ander uiterste standpunt. Dit is deel van die latere ontwikkeling van die stryd teen die bose magte, en wel die stryd op strategiese vlak. Die oortuiging bestaan dat bepaalde bose magte ‘n bepaalde gebied beset en oorheers. Daar word aanvaar dat daar ‘n duidelike rangorde onder die bose magte is, dat ‘n bepaalde mag in beheer van ‘n bepaalde gebied is. Christene moet dan die stryd daar ter plaatse voer. Waarom?

2.5.2 Detail
1. Tweedens is dit opvallend hoeveel detail in sommige gevalle ter sprake is sowel in individuele bevryding as in Geestelike Oorlogvoering. Daar moet bepaal word presies watter bose mag of magte aan die werk is, wat hul name is, oor presies watter gebied hulle regeer, wat hul rang/status in die leermag van die duisternis is, wat hul spesifieke funksie en doel in die betrokke situasie is, of in die geval van persoonlike bevryding wanneer en hoe die spesifieke gees in die mens ingekom het. Daar is mos nie soveel detail in die Bybel oor die bose magte nie.
2. Van engele en ander bonatuurlike wesens (soos chaosmonsters en bose magte) is daar inderdaad heelwat sprake in die Bybel. Daar is verskillende groepe (Kol 1:16). Behalwe beskermengele vir individue (Matt 18:10), is daar ook sprake van “engelvorste” van bepaalde volke (Daniël 10:13,20) en van goeie engele wat oorlog maak teen slegtes (Op 12:7ev).
3. Hierdie gegewens herinner egter sterk daaraan dat daar min detail beskikbaar is, en dat ons baie huiwerig moet wees oor allerlei besonderhede wat ter sprake is. Oor die maniere waarop hierdie inligting bekom word (soos in lang konfronterende gesprekke direk met die mag of magte), kan ook vrae gevra word.
4. Hierdie huiwering word versterk deur die feit dat daar by sommige verteenwoordigers ‘n neiging is om gedetailleerde voorskrifte te gee oor presies hoe ‘n aanval op die vyandelike vestings geloods moet word, soms vergesel van die versekering dat die oorwinning gewis is as die voorskrifte net noukeurig nagekom word. Pas dit regtig by ‘n stryd? Kan ‘n egte stryd nie baie deurmekaar verloop nie, en is dit nie onrealisties om te dink dat alles in ‘n werklike stryd volgens plan sal verloop as ‘n mens net die regte resep volg nie?

2.5.3 Konfrontasie
Derdens is daar die aard van die konfrontasies wanneer bose geeste uitgedryf word. In ‘n sin gaan dit weer om detail. Daar is dikwels sprake van direkte en uitgerekte konfrontasies tussen die eksorsis en die bose mag(-te) in die persoon. Dit word gesprekke in veel besonderhede oor wie die bose gees is, waar hy (sy?) vandaan kom, hoe hy toegang gekry het tot die persoon, wat hy vroeër al alles gedoen het, en nog baie ander besonderhede. Kan dit regtig gesteun word deur die kort, sober, saaklike beskrywings van Jesus se duiweluitdrywing? Net een keer is daar sprake van ‘n naam (Legio, wat ‘n simboliese betekenis het: `baie’ – Mark 5:9), en een van die opvallendste kenmerke van Jesus se eksorsisme is dat die bose magte geen weerstand bied nie, dat dit in ‘n sin nie eens ‘n stryd is nie maar eenvoudig ‘n bevel van Jesus waarop hulle dadelik reageer. Hulle skree dikwels al as Hy nog net op ‘n afstand is. Verder moedig Hy juis nie gesprekke aan nie, maar beveel hulle dikwels om nie te praat nie.

2.5.4 Die mag van bose geeste
1. Die vierde vraag hang nou saam met die vorige een. Veral op die gebied van die okkultisme is daar ‘n vreemde houding. Die blote besit van byvoorbeeld ‘n Boeddha-beeldjie word deur sommige as uiters gevaarlik beskou. Allerlei dinge wat in ‘n mens se lewe verkeerd gaan, word maklik toegeskryf aan die mag wat die Boeddha oor ‘n mens kry as jy sy beeldjie besit. Die beeldjie moet dan ook dadelik verwyder word, dikwels met allerlei simboliese handelinge.
2. Reflekteer hierdie vrees ‘n oorwinnaarshouding waarmee hierdie stryd aangepak word? Of begin iemand wat op die kant staan, wens dat Jesus ook soveel mag gehad het? Dink daaraan: Jy steek net ‘n Nuwe Testamentjie in ‘n Boeddhistiese reisiger se tas weg en Jesus kry dadelik beheer oor sy/haar lewe! Hoe onderskei ‘n mens dit van magie en bygeloof? Is daar enige manier waarop ‘n blote beeldjie mag oor ‘n mens kan kry sonder dat ‘n mens op enige manier godsdienstig betrokke raak? Dink ‘n mens nie onwillekeurig terug aan die profeet wat spot met die magteloosheid van die beelde van afgode nie: “Dan slaan hulle die beeld met spykers vas dat hy nie omval nie” (Jes 41:7). Lees tog Jes 44:6-28. Moet dít nie die oorwinningsmentaliteit wees van iemand wat weet van Jesus se beslissende oorwinning nie? Sou dit nie die gees van hierdie profeet weerspieël as ‘n mens doelbewus so ‘n beeldjie van ‘n ander god op jou tafel hou om elke dag in die Naam van Jesus daarna te kyk en te besef as jy hom nie ronddra nie, bly hy net daar staan? (Jes 46:1)

2.5.5 Eksegetiese vrae
1. Vyfdens is daar ‘n aantal eksegetiese vrae wat seker nie van deurslaggewende belang is nie, maar tog minstens interessant is.
2. Sommige outeurs verstaan die Satan as die engel Lucifer wat uit hoogmoed in opstand teen God gekom het en só in sonde geval het. Hulle grond dit op Jes 14:13-14 en Eseg 28:17. Dit is egter nie verantwoorde eksegese nie omdat die konteks nie voldoende in ag geneem is nie. Jes 14:4-23 is deel van Jes 13-14:23 wat ‘n oordeel oor die koning van Babel is. Jes 14:4-23 is duidelik ‘n spotlied oor hierdie koning (v 4). Die verwysing na die feit dat hy nie begrawe sal word nie, en na sy seuns se voorgeslagte (18ev, 21ev) is verdere aanduidings dat dit om ‘n mens gaan en nie ‘n engel of demoon nie. Die feit dat van hom as die môrester gepraat word en dat hy homself wou verhef om aan God gelyk te wees, is nie vreemd aan die verering wat Nabye-Oosterse konings te beurt geval het nie.
3. Eseg 28 het dieselfde struktuur. Hierdie keer is dit ‘n profesie (1-10) gevolg deur ‘n treurlied teen die koning van Tirus (11-19). Behalwe dat hier nogal heelwat verstaans- en vertalingsprobleme is (onder andere v 12-13), is dit duidelik genoeg dat dit gaan om ‘n mens wat homself verhef het tot die posisie van die gode (28:2,6). Omdat die koning en die koninkryk soms met mekaar vereenselwig word, word soms dinge van die koning gesê wat eintlik nie by ‘n mens pas nie, maar dit is nogeens tipies van die tyd en kultuur.
4. Verder is daar ‘n manier om ongenuanseerd (“plat”) oor die duiwel te dink. Daar is min of selfs geen begrip van ‘n ontwikkeling in die siening van Satan van die vroeër Ou Testament tot in die tyd van Jesus nie. Om te probeer verklaar waarom God nie die heerskappy en die werke van die duiwel sonder meer verbreek nie, word eenvoudig na Job verwys waarvolgens die Here die Satan sou toelaat om Job te teister. Terwyl die Here enige oomblik self die Satan se mag sou kon vernietig, het Hy dan nou maar eenmaal besluit om dit nie te doen nie maar mense te gebruik om hom te beveg. Dit is niks anders nie as die haglike standpunt dat God al die ellende op aarde kon verhoed, maar ongelukkig aan sy eie besluite gebonde is en nou maar eenmaal die ellende moet laat voortgaan. Tog sal ‘n mens moet onthou dat die ondersteuners van Bevryding en Geestelike Oorlogvoering hierdie siening maar net so oorneem van ‘n eensydige albeskikkingsleer.

2.5.6 Triomfalisme?
Ondersteuners van hierdie beweging kom ook nie altyd los van ‘n gesindheid van triomfalisme nie. In ‘n gesaghebbende boek oor Geestelike Oorlogvoering kry ‘n mens die volgende paragraaf: Vir tweeduisend jaar is die koninkryk van Satan teruggedryf en vervang deur die koninkryk van God sodat Satan nou, figuurlik gesproke, met sy rug teen die muur staan in die 10/40 venster … Jesus se eerste inisiatief het ‘n voortgaande massiewe offensief geword waaraan daar geen keer meer is nie (Wagner: Confronting the Powers, 126). Dat daar wonderlike nuwe sendinginisiatiewe is waarvoor ons maar net die Here kan dank, en waarby ons sterker betrokke moet raak, lei geen twyfel nie, maar dat ons dit nog daagliks verder verloor teen die wêreld, en dat daar na my beste wete ongelukkig relatief min vordering in die 10/40 venster gemaak word, is ongelukkig ‘n ope geheim.

2.5.7 Kan Christene ook besete wees?
1. Kan gelowiges ook van die duiwel besete wees? Dit is ‘n bekende vraag, en die antwoord is skynbaar voor die hand liggend: As Christus in iemand is, kan die duiwel nie ook in hom/haar wees nie. Dit is egter ‘n verwarrende antwoord omdat ons ‘n ruimtelike kategorie gebruik (“in” en “beset”) om ‘n verhouding uit te druk. Ons skep dieselfde verwarring as ons letterlik bedoel dat Jesus “in ons harte woon.” Wat ons bedoel, is dat daar ‘n besondere verhouding tussen Hom en ons is.
2. Die vraag is dus eerder of, en in watter mate, die duiwel ‘n invloed op gelowiges se lewe kan hê. Daar is nie verniet verskillende begrippe wat in dié verband gebruik word nie. Iemand kan besete wees, onder die mag of onder die invloed van die duiwel wees, deur die duiwel gebind of regeer of beheer of verlei word, teen die duiwel neerlae ly.
3. Die verskillende terme beteken dat daar verskillende moontlikhede is. Daar is verskillende grade van die mag en invloed van die duiwel in iemand se lewe – in die lewe van Christene én in die lewe van persone wat nie Christene is nie. Wat Christene betref, lees ons in die Nuwe Testament dat ‘n ouderling in ‘n “strik” van die duiwel kan val, en dat die “teenstanders” wat gelowiges is in die gemeente van Timoteus bevry moet word uit die “vangstrik” van die duiwel waarmee hy hulle “gevange” gehou het om sy wil te gehoorsaam (1 Tim 3:7; 2 Tim 2:26).
4. Daar is dus inderdaad verskillende grade van mag wat die duiwel oor gelowiges kan hê.

2.6 KONKLUSIE
2.6.1 Die meeste van die belangrikste teologiese uitgangspunte van die Bevrydingsbediening en Geestelike Oorlogvoering (2.4.1-2.4.3) het goeie Bybelse steun.
2.6.2 Wat bepaalde fasette van die praktyk betref, is daar ‘n aantal huiweringe en vrae. Hierdie vrae raak ‘n belangrike teologiese uitgangspunt (2.4.4), en wel die vraag of ons nie in die praktyk van baie vorms van Geestelike Oorlogvoering met ‘n onaanvaarbare plus bo die Nuwe Testament te doen het nie. Dit is moeilik om kategories hieroor te wees omdat die vorm wat hierdie stryd aanneem, en die wyse waarop ‘n mens dit verwoord, wissel na gelang van ‘n mens se teologie en veral jou spiritualiteit. Dit behoort ‘n mens tot ‘n mate van openheid en toegeeflikheid vir ander se sienings te motiveer. Dit geld te meer omdat hierdie verslag bloot teoreties na verskynsels kyk, terwyl die praktyk eintlik van deurslaggewende belang is. Daarom is die kritiek in hierdie verslag oop vir heroorweging in die lig van gesprekke en veral ervarings wat ‘n leemte in ons spiritualiteit is. Dit verander egter niks aan die waarneming dat die praktyk van baie vorms van Geestelike Oorlogvoering en Bevryding duidelike tendense toon van ‘n onaanvaarbare plus bo die Reformatoriese solae.

2.7 AANBEVELINGS: GEESTELIKE OORLOGVOERING EN BEVRYDING
2.7.1 Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus oor die Bose en sy ryk, en sien met verlange uit na die finale vernietiging van die mag van Satan by die wederkoms van Christus.
2.7.2 Die Algemene Sinode aanvaar dat die koninkryk van God nog nie in sy volle heerlikheid gekom het nie en dat ons dus nog steeds in ‘n geestelike stryd gewikkel is teen die Bose en sy magte (onder andere Heidelbergse Kategismus Sondag 48 en 52), en moedig alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees, en in die gees van die oorwinning van Jesus, ten volle by hierdie stryd betrokke te wees.
2.7.3 Die Algemene Sinode bevestig die teologiese onderbou van ons belydenis wat onder andere beteken dat ons die sogenaamde bonatuurlike karakter van die evangelie aanvaar wat die aktiwiteit van bose magte, die wonderwerke van Jesus, sy opstanding en wederkoms insluit. Ons het dus in terme van teologiese uitgangspunte heelwat in gemeen met sekere vorms van Geestelike Oorlogvoering en die Bediening van Bevryding.
2.7.4 Die Algemene Sinode spreek sy ernstige huiwering uit oor dit wat na ons mening in sommige vorms van Geestelike Oorlogvoering en Bevryding ‘n opsigtelike plus is bo die wyse waarop eksorsisme in die Nuwe Testament beskryf word. Ons meen dat dit ver bo die sober gegewens van die Skrif uitgaan, en die algenoegsaamheid van die werk van Christus kan bedreig.
2.7.5 Die Algemene Sinode distansieer hom van die detail en werkwyse wat in sekere kringe aanvaar word soos die fyner besonderhede oor bose magte, die lang konfronterende gesprekke met bose magte, die magiese mag wat aan beelde en ander voorwerpe toegeskryf word, en die triomfalisme wat soms uitstraal.
2.7.6 Die Algemene Sinode is bewus van die feit dat daar in ons teologie en spiritualiteit min aandag aan hierdie sake gegee word, en dat die meeste van ons nie in staat is om mense met sulke probleme te help nie. Die sinode getuig daarvan dat verskillende kulture in ons land ons duideliker bewus gemaak het van die vrees vir bose magte wat baie mense se lewens oorheers, en moedig sy eie lidmate aan wat in hierdie kontekste werk om besondere aandag hieraan te gee.