Familiewenk #14

Familiewenk #14 2018-06-21T13:30:47+00:00

In plaas daarvan om my grense te probeer stel deur my stem te verhef, te beskuldig of te blameer, doen ek dit eerder op ‘n nie-bedreigende manier deur ‘n Ek-Boodskap te gee.

Die teenoorgestelde van ‘n ek-boodskap is ‘n jy-boodskap. Laasgenoemde is gewoonlik negatief, dra kritiek oor en blameer. Dit suggereer dat die ander persoon verkeerd is.

‘n Jy-boodskap lyk so:

  • Jy beskuldig: “Jy is alweer laat…..”
  • Jy blameer: “en gee nie om dat ek my sit en bekommer nie.”
  • Jy gee nie ‘n rede vir jou bekommernis nie.

Laat ons eerlik wees: Ons voel soms asof ons die reg het om ‘n kind te blameer,

asof ons hom wíl blameer. Daarom het jy-boodskappe ‘n manier om moeiteloos oor ons lippe te vloei. Die probleem met ‘n jy-boodskap is dat kinders beleef dat hulle die probleem is en nie hulle gedrag nie.

Nie-bedreigende kommunikasie is waarskynlik die moeilikste vaardigheid om op die pad na deelnemende ouerskap te bemeester; nie omdat ouers dit nie verstaan nie, maar omdat dit meestal nodig is om te leer om uit ‘n ander hoek as dié waaraan hulle gewoond is, na probleme te kyk. As ouers dit regkry sien hulle probleme heeltemal anders as voorheen (hulle maak ‘n paradigmaskuif).

Ouers kan op ‘n nie-bedreigende manier reageer deur ‘n ek-boodskap te gee. Dit klink so:

Wees eers empaties: “Ek kan verstaan dat jy nog wou speel,…”

Volg dit op met ‘n ek-boodskap:

Beskryf wat jou pla (die probleem): “maar as jy nie betyds huis toe kom nie…”

Beskryf hoe dit jou laat voel: “voel ek bekommerd,…”

Beskryf waarom dit vir jou ‘n probleem is (rede): “omdat ek nie weet waar jy is nie…”

Dit is belangrik dat ‘n ek-boodskap met ‘n rustige stemtoon gesê word sonder liggaamstaal wat die ander persoon aanval, anders raak dit weer ‘n jy-boodskap.