19 Sep 2014

God en godsdiens is nie dieselfde nie – ook nie in ons skole nie

0 Comment

Die huidige debat oor godsdiens in die skole het menige gelowige warm onder die kraag.  Miskien gee die volgende kort opmerkings ’n bietjie perspektief, of minstens ’n basis vir gesprek:  

  • Gelowiges sal goed doen om eers hand in eie boesem te steek en toe te gee dat daar in die verlede dikwels vergrype in die naam van godsdiens in skole plaasgevind het.  Menige onderwyser/es het dit al in die verlede baie goed bedoel, maar in die proses hulle eie, ondeurdagte dogmas op ontvanklike kinders afgedruk, wat tot groot verwarring en pyn kon lei.  Dit is nie in orde om kinders in skole aan te moedig om kentekens te dra om hulle as Christene te identifiseer, om kinders hulle hande te laat opsteek om te wys wie is Christene, of om kinders “die duiwel se kind” te noem as hulle teëpraat nie. Dis nie in orde om in ’n saalbyeenkoms vir kinders te vertel hulle gaan hel toe as hulle nie die Drie-enige God aanbid nie.  Dis ook nie in orde om vir kinders te vertel hoe gebed iemand met kanker genees het omdat daar so hard gebid en geglo is, terwyl ’n kind voor jou sy pa die vorige dag aan kanker verloor het nie. Al hierdie voorbeelde is werklike voorbeelde van godsdiens-vergrype wat onlangs in skole in ons omgewing plaasgevind het.  Nie net is dit nie in orde nie – dit word ook tereg deur die letter én gees van die tersake wetgewing verbied.
  • Die Grondwet, Skolewet asook die Beleid oor Godsdiens in Opvoeding stel nie ’n sogenaamde sekulêre staat model voor nie en dit word duidelik gestel dat die tersake wetgewing nie godsdiensvyandig wil wees nie, maar inteendeel geloof respekteer en die belangrikheid van godsdiensonderrig en godsdiensbeoefening bevestig (p 2 van die Beleid oor Godsdiens en Opvoeding). Die beleid veronderstel ‘n samewerkingsmodel tussen staat en godsdiens waarbinne die sfere van staat en godsdiens weliswaar duidelik onderskei word, maar nie geskei word nie.  Kreatiewe interaksie tussen die staat en godsdienstige instansies, sowel as godsdienste onderling, word in die beleid aangemoedig, met die oog op ‘n breë waardekonsensus in ons konstitusionele demokrasie (p 4).  Die beleid bevestig ook die onvervreembare waardes van menswaardigheid, gelykheid, vryheid van diskriminasie en vryheid tot gewete, geloof, denke en spraak (p 6) – soos ook vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet.
  • Die argument wat nou in die howe gevoer sal moet word, sal waarskynlik ’n regsargument wees wat fokus op die relatiewe gesag van drie stukke wetgewing, te wete die Grondwet, die Skolewet en die Beleid oor Godsdiens in Opvoeding.  Die dokument wat godsdiensbeoefening die meeste kritiseer, is die Beleid.  Die Beleid staan egter ondergeskik aan die Skolewet en die Grondwet en die howe sal dus moet besluit of die verskillende vorme van wetgewing in konflik tot mekaar staan, hulle sal dit moet interpreteer en uitspraak moet lewer.  Indien die magte van Beheerliggame ingeperk wil word en godsdiensbeoefening in alle vorme verbied wil word, sal die howe moet verduidelik hoe art 15(2) van die Grondwet dan verstaan moet word, want “Religious observances may be conducted at state or state-aided institutions, provided that a. those observances follow rules made by the appropriate public authorities; b. they are conducted on an equitable basis; and c. attendance at them is free and voluntary.”
  • Die probleem in skole is dikwels dat kinders wat nie aan die godsdiensbeoefening van die meerderheid wil deelneem nie, wel tegemoetgekom word, maar op so ’n wyse dat hulle “uitgesonder” word.  Die departementele beleid merk tereg op (p 22) dat leerders sensitief is vir groepsdruk en nie graag as “anders” uitgesonder wil word nie.  Daarom moet opvoeders sensitief wees daarvoor dat, al is godsdiensbeoefening in die skool vrywillig, daar nie op enige wyse onbehoorlike groepsdruk of etikettering sal wees wat leerders van ander geloofsoortuigings subtiel sal beïnvloed om tog maar aan die aktiwiteite deel te neem nie.  Die vrywillige aard van die bywoon van godsdienstige aktiwiteite moet ook gereeld vermeld word en na behoefte behoort alternatiewe geskep te word vir leerders wat nie die “hoofstroom” aktiwiteite meemaak nie.
  • Skole wat wil verwys na “Christelik” moet besef dat hulle as openbare skole nie ’n “Christelike” skool kan wees nie.  As ouers dit verwag, moet hulle hul kinders in ’n Christelike privaat skool sit. Daar kan hoogstens van ’n skool se Christelike “etos” gepraat word, maar dan moet mens ook onthou dat daar in elk geval ’n groot waardekonsensus is tussen verskillende godsdienste en die waardes en etos van so ’n skool is dus ook in lyn met die gedeelde waardes van meer godsdienste en lewensbeskouings as net die Christelike godsdiens.  Die vraag is dus wat die nut daarvan is om om so ’n skool of etos dan “Christelik” te noem en of dit nie eerder oor die uitleef van die Christelike “waardes” gaan as oor die uitbasuin van die “Christelikheid” daarvan nie. [Daar bestaan wel ook die mening dat ‘n openbare skool juis nie ‘n “staatskool” is nie en as sodanig ‘n regspersoon is wat mag kies vir ‘n volledig Christelike identiteit. Ook dit sal waarskynlik in die hof getoets moet word – IJVDM]
  • Die meerderheids- en demokratiese argument moet ook nie te ver gevoer word nie.  Alhoewel die meerderheid van die leerders en ouers van ’n spesifieke skool met die Christelike geloof sou kon identifiseer, is dit nog geen rede om paternalisties op te tree teenoor enige ander geloof of lewensbeskouing nie (onder meer omdat dit nie Jesus se styl sou wees nie en dus “onchristelik” sou wees).  Trouens, om in die meerderheid te wees moet mens juis méér sensitief maak om nie ondeurdag op te tree op ‘n wyse wat medeleerders en ouers van ander geloofsoortuigings in die skool as diskriminerend en disrespekvol kan beleef nie.
  • Ons Grondwet hoef nie na Christus en die Drie-Enige God te verwys voordat ons die Christelike siening van die mens se geskapenheid na die beeld van God in die Grondwet se klem op menswaardigheid kan herken nie.  So ook is dit in die publieke sfeer eerder belangrik dat ons dit wat Christus ons leer, sal “vertaal” en uitleef in elke konteks waarin ons beweeg.  Selfs al sou Christelike godsdiensbeoefening nie deel van die dagroetine van kinders in ’n openbare skool wees nie, beteken dit nog in die minste nie dat God nie meer daar is nie, want waar liefde is, is God.  En waar sy kinders is, is sy Liggaam, oftewel die kerk.

 Johan van der Merwe

Sien ook:  http://www.moederkerk.co.za/religion-and-spirituality-valuing-faith-deepening-understanding-practicing-inclusivity

[top]