Kersfees

Kersfees 2018-05-02T12:57:12+00:00

1.   Hoekom vier ons Kersfees op 25 Desember?

Dis interessant om te weet dat die Oosterse kerk (soos die Grieks-Ortodokse en Russies-Ortodokse Kerk) nie juis die geboorte van Jesus vier soos die Westerse kerk nie.  Vir beide die Westerse en Oosterse kerk gaan dit natuurlik daaroor dat God deur Jesus op ons wêreldtoneel verskyn het.  Ons vier daarom Kersfees omdat ons meen dat Jesus met sy geboorte op die toneel verskyn het.  Die Oosterse kerk vier egter eerder sy doop in die Jordaan.  Hulle sê dat dit die begin van sy openbare lewe was en dat dit belangriker is as sy geboorte.  Hierdie fees van Epifanie (die Griekse woord epifaneia beteken “verskyning”) vier hulle op 6 Januarie.  Ons probeer ook op die Sondag die naaste aan Epifanie iets maak van die herdenking van Jesus se doop.  Daar is ook ‘n kort epifanie-seisoen in die kerkjaar waar ons nadink oor Jesus se openbare lewe deur te preek oor sy genesings en wonderwerke.  Tog bly die viering van die geboorte van Jesus vir die Westerse kerk belangriker as die viering van sy doop.

In die jaar 336 n.C. lees ons in geskrifte dat die viering van die geboorte van Jesus op 25 Desember in Rome plaasgevind het.  Miskien kon dit al tien jaar of so vroeër ‘n gevestigde gebruik gewees het, maar die eerste optekening is 336 n.C.

Oor hoe die datum presies op 25 Desember vasgestel is, is daar nie groot duidelikheid nie.  Daar is wel ‘n ou kerklike tradisie wat sê dat Christus op 25 Maart gesterf het aan die kruis en dat dit ook die datum was waarop die engel aan Maria verskyn het en aangekondig het dat sy swanger sou word en die Emmanuel sou baar.  As dit die begin van die swangerskap sou wees, lê nege maande later op 25 Desember.  Die interessante wins van hierdie tradisie is dat dit ons op Kersdag herinner dat Jesus gebore is om vir ons te sterf (op 25 Maart dan volgens die tradisie).  Dit vat ‘n bietjie die sentimentaliteit uit Kersfees en laat ons besef dat Jesus gebore is om te kom sterf om my te kon verlos van my sonde.

2.   Wat beteken Adventstyd?

“Advent” kom van die Latynse woord adventus en beteken “koms”.  Dit is die naam van die seisoen in die Kerk se jaar waar ons onthou hoe mense uitgesien het na die Messias se koms.  Dis die begin van die Christelike kerkjaar.  Soos wat die Moslems en Jode hulle eie nuwejaarsdag (anders as 1 Januarie) het, so het die Christene dit ook op die eerste Adventsondag.

In die vier weke Adventstyd dink ons daaraan dat Christus gekom het èn dat Hy weer sal kom.  Dis nie net ‘n tyd om sy geboorte te herdenk nie, maar ‘n tyd om spesiaal uit te sien na sy wederkoms.  Dit is verder ‘n tyd waar ons oefen om Christus se verrassende koms elke dag in ons lewens te verwag.  Dink maar aan ‘n bekommernis of probleem of belangrike besluit in jou lewe op die oomblik.  Dan is Adventstyd vir jou!  ‘n Tyd om te weet dat die God van verrassings net so kragtig in jou lewe wil werk soos 2000 jaar gelede in ‘n stal in Betlehem.

Die temas wat in Adventstyd aan die orde kom is

  • die kontras tussen lig en duister (daarom ook die oorvloedige gebruik van kerse – Christus is die lig vir die wêreld en die duisternis kan die lig nie uitdoof nie)
  • om geduldig te wag op die vervulling van God se beloftes
  • om te stry vir geregtigheid (Hy is die vredevors wat die koninkryk van reg en geregtigheid kom vestig volgens Jes. 9:6)

Die liturgiese kleure van Advent is koningsblou (Hy is ons Koning) en vir Kersdag wit en goud.

3.   Waarvoor staan die adventskrans?

Een van die maniere om ons voor te berei op die herdenking van sy geboorte op Kersdag, is deur ‘n adventskrans.  Ons steek die kerse van hierdie krans aan om ons te herinner aan die hemelse gawes wat Christus vir ons en ons wêreld gebring het.  Die adventskrans bevat ‘n paar simbole om ons te help dink oor Christus en sy gawes.  Die krans self is in die vorm van ‘n sirkel.  ‘n Sirkel het geen begin of einde nie.  Dit herinner ons daaraan dat daar geen begin en geen einde is aan God en aan sy liefde vir ons nie.  Die lig van die kerse, wat algaande sterker word namate volgende kerse aangesteek word, herinner ons dat Jesus die lig vir die wêreld is.

Elke Adventsondag word ‘n volgende kers aangesteek.  Die eerste Sondag een, die tweede twee, ens. totdat op die vierde Adventsondag al vier brand.  In die middel staan die groot Christuskers of paaskers wat altyd brand om ons te herinner dat Christus uit die dood opgestaan het.

Die vier kerse herinner ons aan elk van vier gawes wat Christus vir ons bring, naamlik

  • hoop
  • vrede
  • vreugde
  • liefde

Die kleur van die kerse is koningsblou (die kleur vir Advent).  In sommige kerke is drie kerse blou of pers en een ligroos.  Die ligroos kers word op die derde Adventsondag aangesteek.  Dit stel ‘n soort pouse voor (juis op die Sondag van “vreugde”) waarin ons moed skep dat die einde van die wagtyd in sig is.  Byna soos wanneer mens ‘n berg uitklim en die spits nie kan sien nie, maar dan skielik in ‘n oopte kom en jy sien die spits en skep moed, al is jy nog nie heeltemal daar nie.  In sommige kerke word die ligroos kers op die vierde Adventsondag aangesteek en herinner dit dan dat ná die nag die dag nou breek (die herdenking van Kersdag is amper daar, die ligroos is die kleur van dagbreek en blou die kleur van die nag).

4.   Waar kom die kersboom vandaan?

Daar is verskillende legendes om die oorsprong van die kersboom mee te verklaar.

  1. Een storie vertel dat dit begin het by die Engelse monnik Bonifacius, wat die kerk in Frankryk en Duitsland georganiseer het. Eendag op een van sy reise het hy op ‘n groep barbaarse heidene afgekom wat rondom ‘n groot eikeboom op die punt was om ‘n kind te offer aan die god Thor.  Om hierdie ritueel te stop en die kind se lewe te red, het Bonifacius met een vuishou die eikeboom neergevel.  In die plek daarvan het dadelik ‘n klein denneboompie gegroei.  Die heilige Bonifacius het vir die heidene verduidelik dat daardie boompie die Boom van die Lewe was en die ewige lewe in Christus simboliseer.
  2. Nog ‘n legende vertel dat Martin Luther, die groot kerkhervormer, een Oukersaand deur die woud gestap het. Hy het hom geloop en verwonder aan die miljoene sterre wat skyn deur die blare van die dennebome.  Hy was so opgewonde dat hy ‘n klein boompie afgesny het en dit huis toe gevat het na sy familie toe.  Om die sterliggies wat hy in die woud gesien het vir hulle te kan wys het hy kersies op die takke van die boompie gesit.
  3. Nog ‘n verhaal vertel van ‘n arm houtkapper wat lank gelede een Oukersaand ‘n verdwaalde, honger kind teengekom het. Alhoewel hy self baie arm was het hy vir die kind kos en slaapplek vir die nag gegee.  Die volgende oggend toe hy wakker word was daar ‘n glinsterende klein boompie buite sy deur.  Die honger kind was in werklikheid die Christuskind in ‘n vermomming.  Die boompie was ‘n geskenk om die goeie man vir sy welwillendheid te bedank.
  4. Sommige mense voel die kersboompie se oorsprong lê by die sogenaamde “paradysdrama”. In die Middeleeue kon meeste mense nie lees nie en dramas is gebruik op die lesse van die Bybel oral oor Europa aan mense oor te dra.  Die paradysdrama het die skepping en sondeval van die mens uitgebeeld.  Elke jaar op 24 Desember is die drama opgevoer.  Omdat dit in die winter gedoen is, het dit ‘n probleem geskep.  ‘n Appelboom was nodig maar daar was nie appels in die winter nie.  ‘n Denneboom is dus met vrugte behang en so het ons kersboom uiteindelik ontstaan.
  5. In Duitsland was die kersboom van vroeg af ‘n simbool van die boom van die lewe in die paradys. Daarby het Duitse gelowiges ook ‘n houtstruktuurtjie in die vorm van ‘n houtpiramidetjie gebruik en op elke trappie ‘n kersie geplaas.  Dit het hulle op Oukersaand daaraan herinner dat Christus die lig vir die wêreld is.  Die boom en die piramide het mettertyd een geword en kyk, ‘n boom met liggies wat sê Christus het vir die Boom van die Lewe geword.
  6. Vandag herinner die boom ons ook daaraan dat Christus gekom het nie net om sy mense nie, maar sy hele skepping en natuur te verlos. Die kersboom is dus ook vir ons ‘n ekologiese simbool.

5.        Waar kom Vader Kersfees vandaan?

Vader Kersfees se Amerikaanse eweknie Santa Claus, se naam is afgelei van Sint Nikolaas.  Hierdie heilige is gebore in die Midde-Ooste in die vierde eeu n.C.  Hy het die biskop van Myra (vandag Kale) naby Turkye geword.  Daar is baie legendes wat vertel word oor sy liefde vir kinders, sy vriendelikheid en die wonderwerke wat rondom hom plaasgevind het.  Die beroemdste storie oor hom verklaar ‘n paar kersfeesgebruike.  Dit vertel van ‘n arm man wat drie dogters gehad het.  Hulle wou trou, maar kon nie, omdat hulle pa nie genoeg geld gehad het vir ‘n bruidskat vir elkeen nie.  Sint Nikolaas was ‘n skaam man en wou nie sommer gaan geld gee nie.  Toe die eerste dogter wou trou, het die goeie biskop ‘n sakkie goud in die nag by ‘n venster ingegooi.  Later het hy dieselfde gedoen toe die tweede dogter wou trou.  Met die derde dogter op trou, het die arm man besluit hy moet net uitvind wie is die goeie weldoener.  Hy het waggehou in die nag en dit word vertel dat hy die biskop gesien het toe hy hierdie keer op die dak geklim het en ‘n sakkie goud in die skoorsteen afgegooi het.  Die sakkie goud het hierdie keer geval binne-in ‘n sokkie wat in die vuurherd gehang het om droog te word.  En siedaar, die kerskous!  Sint Nikolaas het die vader natuurlik gevra om dit geheim te hou, maar dit kon nie.  Vandag word die geskenke toegeskryf aan Sint Nikolaas.  Die stories het versprei na ander lande.  Dit was in die Laplande, tuiste van die rendiere, waar aan Sint Nikolaas ‘n slee en rendiere geheg is.  Die 6de Desember is die herdenking van Sint Nikolaas se dood.  Dit is so naby aan Kersfees dat die Vader Kersfees gedagte in die meeste lande op Oukersaand optree.  In Nederland en Duitsland, word die 6de Desember steeds as Sint Nikolaasdag gevier en Kersfees apart op 25 Desember.  Dit veroorsaak dat hulle veel meer die Kersboodskap behou en nie Kersfees so aan geskenke koppel nie.

6.        Waar kom Stille Nag vandaan?

Oor die geskiedenis van die kenwysie van Kersfees word die volgende vertel:  op Kersaand 1818 was die twee vriende Josef Mohr, die priester in die klein Oostenrykse dorpie Oberndorf en sy vriend Franz Gruber, die orrelis, besig om vir die middernagdiens voor te berei toe hulle agterkom muise het die binnewerk van die orrel stukkend geknaag.  Die diens sou sonder musiek moes voortgaan.

Sommige vertel Gruber het sy kitaar gegryp en ‘n wysie begin tokkel – Mohr het opgespring en uitgeroep: “Ek het dit!” en binne ‘n halfuur die woorde van Stille nag neergeskryf.  Middernag, met kitaar en al, is “Stille Nag” uit volle bors gesing.  Kersfees se kenwysie is gebore!

Vandag staan dit bekend as die lied wat selfs die kanonne van die Eerste W.O. in 1914 kon stilmaak.  Vertel dat die Duitsers ‘n boodskapper oor die niemandsland na die Engelse linies gestuur het met ‘n uitnodiging om saam met hulle Kersliedere te sing.  ‘n Engelse soldaat het die boodskapper tegemoetgegaan.  Gou het ander soldate ook uit die loopgrawe geklim en hulle by die twee manne aangesluit.  “Stille Nag” is gesing en die trane het glo vrylik gevloei.  Daar is ooreengekom op ‘n skietstaking van ‘n week.  Aan die einde van die sewe dae het die Duitsers ‘n boodskapper gestuur met die boodskap dat die geveg moes voortgaan, maar dat hulle hulle eerste kanonskote aspris ver mis sou skiet.

Die Britse bevelvoerder het glo die Duitse boodskapper met ‘n doos Engelse sjokolade na sy linies toe teruggestuur.

SIEN DIE YOUTUBE VIDEO WAT HIERDIE GEBEURE UITBEELD