Geskiedenis

Geskiedenis 2018-09-07T16:07:56+00:00
Agtergrond

As die tweede oudste gemeente in Suid-Afrika (gestig in 1686) kyk die lidmate van vandag met groot dankbaarheid terug op ‘n veelkleurige geskiedenis van die vorige geslagte wat hier kerk gehou en kerk gegaan het. Dit verteenwoordig maklik 10 to 12 opeenvolgende generasies van kerkgangers. Dit is ewe indrukwekkend om na die ou dokumentasie van die kerkraad te kyk. Wat vroeër hul erns was, is vandag bra onbelangrik. Wat vandag alledaags is, sou vir die oumense ‘n skreiende laster en skande gewees het! Wat die toekomstige kerkrade van ons besluite gaan dink, kan ons glad nie raai nie.

Drie unieke museumareas is in die Moederkerk gebou ingerig vir besigtiging.  Dokumentasie wat daar uitgestal word wat die geskiedenis van verskillende aspekte van die gemeente vertel, is ook aanlyn beskikbaar.  Kliek hier vir die toegang (Dropbox).

Vir ‘n kleurpamflet met ‘n opsomming van die gemeentegeskiedenis en ‘n oorsig oor die betekenis van die kerkvensters, laai dit hier af.

Afstigting

Die gemeente van Stellenbosch het die hele bewoonde binneland bedien, met die gevolg dat afstigting reëlmatig plaasgevind het. Dit het meegebring dat Moederkerk werklik die moeder van nie minder nie as 10 hedendaagse gemeentes is.
Die volgende gemeentes tel hieronder :

  • Drakenstein [1691]
  • Tulbagh [1743]
  • Swellendam [1798]
  • Caledon [1810]
  • Somerset-Wes [1825]
  • Stellenbosch-Wes [1952]
  • Stellenbosch-Noord [1953]
  • Stellenbosch-sentraal [1959]
  • Welgelegen [1965].
Groei

Die lidmaatgetalle het oor die dekades en eeue gefluktueer. Die getalle neem toe totdat afstigting plaasvind en dan gaan die groeiproses weer voort. Daar bestaan omvangryke registers van lidmate se doop- huwelik en sterfregisters wat hierdie skommeling mooi weerspieël. In die registers verskyn die name van meeste van die vroeë Suid-Afrikaanse families.

Geboue

Die eerste kerkgeboutjie in Suid-Afrika word deur die Kompanjie op Simon van der Stel se aandrang in 1687 in die middedorp opgerig. Dit is ‘n fraai houtstruktuur met ‘n klein toring op die dak. Die vreugde van die gemeente sou egter van korte duur wees omdat dit in 1710 deur ‘n verterende vuur vernietig word. Die gekweste gemeente moes vir 12 jaar in ‘n wynkelder sy eredienste hou totdat die groter Kruiskerk in 1723 aan Drostdystraat en bokant die brandgevaar van die dorp voltooi word. Enkele kleiner uitbreidings aan hierdie Kruiskerk word deur groeiende lidmaatgetalle genoodsaak, maar dit sou eers veel later in 1863 wees dat ‘n aansienlike vergroting van die gebou wel plaasvind. Die resultaat hiervan is die Neo-gotiese Kerkgebou van vandag. Teen die eeuwende van 2000 vind verskeie restourasie-projekte plaas as die gemeente sy Kerkgebou, die Hofmeyrsaal en Kerkhuis drasties opknap en herinrig.

Leraars

Oor ‘n tydspan van meer as 300 jaar was daar aanvanklike wel periodes waartydens die gemeente sonder leraar moes klaarkom. Maar daarna verander die prentjie en dien meer as 35 leraars in die gemeente. Hulle dienstye wissel aansienlik – vanaf 44 jaar tot 2 jaar. In die konsistorie is daar ‘n historiese paneel van 5m waarop die dienstye en die foto’s van al die leraars verskyn.

Begrafnisse

Aanvanklik maak die gemeente soos daar in Europa gemaak is – begrawe hul dooies binne-in die kerkgebou onder die vloer. Op hierdie manier is daar meer as 500 persone onder die kerkgebou se vloer begrawe, tot ongerief van die kerkgangers. Die einde van hierdie gebruik het gekom met die toekenning van die eerste grafkelder in 1801 buite die kerkgebou. Dit het egter nie lank gefunksioneer nie totdat die hele perseel teen 1849 weereens vol was en die eerste van twee munisipale begraafplase geopen word. In 2001 bou die kerkraad gedenkmure met nisse agter die kerkgebou en is daar dus ‘n terugkeer na die ou historiese terrein.

Preekstoel

Die eerste preekstoel is in 1721 deur Adam Albertyn (stamvader van die Albertyn familie) gemaak.  Dit was `n taamlike eenvoudige stuk werk (het slegs 52 Riksdaalders gekos), maar dit het vir ongeveer 130 jaar diens gedoen in die gemeente!  Toe die preekstoel baie oud en onbruikbaar geword het, is daar in die loop van 1852 begin met ‘n insameling vir geld vir ‘n nuwe preekstoel.  Timmerman Londt het in 1853 die tweede preekstoel vervaardig in die Barokstyl.  Die ou preekstoel is op versoek van die nuutgestigde gemeente van “Zoutrivier aan de Grote Bergrivier” (Hopefield) aan hulle geskenk. Alhoewel die nuwe Londt preekstoel ‘n pragtige preekstoel was is daar gevoel dat dit nie inpas by die Gotiese bouwerk van die nuwe kerk in 1863 nie, en daar is derhalwe nog `n nuwe preekstoel laat maak, en is die Londt preekstoel aan die sendelinge van die Rynse kerk aangebied [dit staan steeds in die Rynse Kerk op die Braak].  Dit word dus in 1863 vervang deur die huidige ontwerp deur die argitek Hager in die Gotiese styl.  Laasgenoemde preekstoel is geskenk deur JD Beyers.

Orrel

Die eerste orrel is in 1801 voltooi en het goeie dienste vir ongeveer 20 jaar gelewer, totdat dit begin verroes het. Die tweede orrel is geskenk deur die Groote Kerk in Kaapstad en is na twee jaar se onaangenaamheid om dit te verskuif na Stellenbosch, is dit in 1832 in gebruik geneem. Na ‘n tyd het die toestand van hierdie tweedehandse orrel so sorgwekkend geword dat die gemeente begin kollekteer het vir die aankoop van ‘n nuwe, en in 1853 is die mooi som van 218 Pond reeds ingesamel. Aangesien ‘n nuwe orrel ongeveer 730 Pond sou kos, het dit wel nog twee jaar geneem om die nodige fondse te verkry en die orrel van Engeland af bestel. Interessant genoeg het die skip waarmee die orrel na Suid Afrika gestuur is, gestrand op die kus van Frankryk, maar aangesien die goedere verseker was, en gedeeltes van die orrel gered is, hoef sleg die gedeeltes wat ontbreek of deur seewater beskadig is vervang te word. Hierdie orrel is in 1858 in gebruik geneem en weens die grootte daarvan, moes dit agter die preekstoel staan tot die voltooiing van die nuwe kerkgebou in 1863, toe dit op sy regmatige plek op die galery ingebou is. Die orrel is in 1953 vervang deur die huidige veel groter instrument en is feestelik ingewy op Hervormingsfees in 1953. Die sierlike mahonie-pypkas en frontpanele van die ou orrel van 1858 is egter behou.

Klokke

Die eerste klok het tussen los pilare suid van die kerkgebou gehang en is in 1750 in gebruik geneem. In 1865 is drie nuwe klokke uit Duitsland in die nuwe kerktoring gehang. Volgens oorlewering het die gelui van die klokke geklink soos die name van die drie skenkers: Jan [Beyers] Flip [Myburgh] en Oubaas [Beyers].
Hoog bo die drie luiklokke het die klein sopraanklok 1899 gehang, waarop die uurwerk se hamer die ure en halfuure slaan. Die huidige stel van ses klokke is in 1983 uit Duitsland ingevoer.

Doopfont

Die agtkantige, ornamentele silwervont is in 1765 in Amsterdam gemaak, en so ook die Nagmaalserviese van silwer [tans in die Dorpsmuseum]. Die skenker was Heemraad Martin Melck, ‘n Lutheraan.

Ringmuur

Die ringmuur dateer uit 1735 en is die oudste onveranderde bouwerk op die terrein, hoofsaaklik van klip gebou

Opsommende Tydlyn 1679-1900
  • 1679 Kommandeur Simon van der Stel vestig Stellenbosch as nedersetting.
  • 686 Die eerste twee kerkraadslede van die gemeente word benoem en in Jan 1687 deur ds Overneij van Kaapstad bevestig.
  • 1687 Op 19 Okt word die Ou Kerkgebou laer af in die straat wat vandag Kerkstraat heet, ingewy – inderdaad die eerste volwaardige kerkgebou in Suid-Afrika.
  • 1700 Die eerste voltydse predikant, Hercueles van Loon ,word bevestig.
  • 1710 ‘n Brand vernietig die eerste kerk, die Drostdy en twaalf dorpshuise.
  • 1719 Hoeksteenlegging van die Kruiskerk op die huidige perseel, oos van die dorp en bokant die wind en brandgevaar.
  • 1722 Die eerste tien grafpersele in die onvoltooide kerk word verkoop. Ongeveer 100 grafte is uitgemeet, maar volgens die graflyste is ongeveer 500 mense uiteindelik hier begrawe.
  • 1723 Die Kruiskerk word in gebruik geneem.
  • 1801 Eerste grafkelder buite die kerkgebou aan die Van der Riet-familie toegeken.
  • 1807 ‘n Konsistorie word aangebou aan die kerkgebou se oosgewel.
  • 1814 Die kerkgebou word vergroot deur die verlenging van die noord, suid- en wesvleuels en die voorkant kry ‘n klassistiese gewel.
  • 1863 Inwyding van die huidige Neo-Gotiese Toringkerk. Die argitek is Car Otto Hager van Dresden.
  • 1923 Moedergemeente begin twee eredienste op ‘n Sondagoggend
  • 1927 Hoeksteen van die “Nuwe Kerk” (tans Kruiskerkgebou) word gelê op die hoek van Victoria- en Van Ryneveldstraat
  • 1934 Eerste oggenddienste in Afrikaans in plaas van Nederlands
  • 1946 Vierde leraar vir die eerste maal beroep aangesien gemeente reeds uit 6734 lidmate bestaan
  • 1950 Moedergemeente is die grootste NG Kerk gemeente in Suid-Afrika met ‘n sieletal van 7577 lidmate, waarvan ongeveer die helfte studente is.
  • 1952 Stellenbosch-Wes stig af
  • 1953 Stellenbosch-Noord stig af
  • 1959 Stellenbosch-Sentraal stig af – erf meeste van die studentelidmate
  • 1965 Welgelegen stig af
  • 1967 Eerste gebrandskilderde venster word in kerkgebou ingebou
  • 1973 Verdere gebrandskilderde ruite ontwerp deur Leo Theron word ingebou
  • 1985 Sentraal en Studentekerk skei in twee gemeentes wat onderskeidelik spesifiek op gevestigde lidmate en studentelidmate fokus
  • 1990 Moedergemeente skuif eie behoefte aan tweede predikant opsy ter wille van beroeping van `n voltydse predikant in Mosambiek
  • 2000 Gemeente gaan deur `n visioneringsproses wat die gemeente nuwe fokus gee – visie van “`n Rivier van Lewende Water” word gebore. Kommissies word afgeskaf en bedieninge word ingestel wat alle lidmate die geleentheid bied om hul gawes uit te leef
  • 2002 Gemeente betree digitale era met ontstaan van `n gemeentewebwerf
  • 2006 Studentekerk word ná 21 jaar weer deel van Moederkerk.
  • 2006 Moedergemeente brei eredienste uit tot twee oggend- en twee aanddienste. Die ou gebou van die Studentekerk word herdoop tot Kruiskerk en bykomend vir eredienste gebruik. Moedergemeente het vir die eerste maal `n vroulike predikant en vir die eerste maal 5 voltydse predikante
  • 2007 Hofmeyersaal word heringerig en heringewy op 14 Oktober
  • 2007 Konsistorie word omskep in Moederskamer
  • 2008 Gemeente bestaan uit ongeveer 2500 gevestigde lidmate en 2000 studente en jong werkendes